EntertainmentLifestyle

Trane rol en note weergalm saam Rocco

Soms is 'n mens lus vir ander vermaak as die gewone fliek of konsert. Dit is gevalle soos dié wat jy 'n kaartjie koop vir Rocco de Villiers se vertoning.

POLOKWANE – Soms is ‘n mens lus vir ander vermaak as die gewone fliek of konsert. Dit is gevalle soos dié wat jy ‘n kaartjie koop vir Rocco de Villiers se vertoning. Jy neem jou wyn en gaan geniet ‘n aand waar trane rol, beide van lag en hartseer.

Inwoners van die stad het juis so ‘n vertoning op Donderdag, 23 Julie geniet. Die optrede is deur die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Vereniging (SADA) en Dental Studio in Polokwane aangebied ten bate van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF).

“SAVF is totaal afhanklik van donasies en deur hierdie optrede wil ons mense blootstel en vertel dat daar ‘n behoefte is aan aande soos hierdie asook vir instansies soos SAVF,” vertel Sybrand van Rheede van Oudtshoorn, tandarts by Dental Studio. “Ons wil ook ons kinders bewus maak om ander mense in die gemeenskap ook te help.”

In ‘n swart broek met wit kolle en ‘n pers manelpak betree Rocco die verhoog en slaan asems weg met sy uitbeelding van Love Changes Everything. Hy is nie net ‘n pianis nie, hy vertel ook bindende stories en staaltjies.

“Dit is fantasties om hier te wees. Hierdie is vir my ‘n spesiale jaar want ek het 25 jaar gelede begin klavier speel om brood en botter op die tafel te sit,” sê Rocco.

Met elke staaltjie laat hy die gehoor skaterlag net om direk daarna weer die trane te laat rol met liedjies soos Amazing Grace en Hoe Groot Is U. Hy sluit sy vertoning af met ‘n boeremusiek keurspel, want boeremusiek is hoe sy loopbaan begin het, vertel hy.

Anneliese Bothma, bestuurder van Martha Hofmeyr Tehuis en Vergeet My Nie Behuising was baie dankbaar vir die moeite wat gedoen is.

“Mense verswak baie. Ons het drie projekte, die gesinsorg, die Vergeet My Nie wat 104 bejaardes het en Martha Hofmeyr wat 98 bejaardes het. Ek wil net aan almal sê: Kyk na jou ouers, hulle wil jou sien.”

MEER FOTO’S

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

 
Back to top button