Passievolle jong krieketspeler mik na SA-vrouespan

Die sportsoort wat as ‘n tydverdryf tydens pouses in die laerskool vir Helgelean Whelan begin het, is nou haar passie en dié jong krieketspeler se droom is om Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig. Die graad 12-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) was reeds in graad 9 deel van die skool se eerstemeisiespan en is tans …

Die sportsoort wat as ‘n tydverdryf tydens pouses in die laerskool vir Helgelean Whelan begin het, is nou haar passie en dié jong krieketspeler se droom is om Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig.

Die graad 12-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) was reeds in graad 9 deel van die skool se eerstemeisiespan en is tans kaptein van die span.
Helgelean vertel dat sy die spel van kleins af geniet het, maar dat die gogga haar behoorlik gebyt het toe sy as graad 8-leerder vir die o.16-span gekies is. In graad 10 is sy vir die Limpopo o.16-span gekies en ‘n nuwe wêreld het vir haar oopgegaan. Helgelean het besef dat sy hoë hoogtes in die gewilde sportsoort kan bereik.
In haar graad 11-jaar het die talentvolle speler ‘n hele paar hoogtepunte beleef; sy is aangewys as onderkaptein van PHS se eerstespan, gekies vir die o.19 Limpopo-krieketspan en het haar debuut in die Limpopo-vrouekrieketspan gemaak.
Nie tevrede met net een weergawe van die spel nie, het Helgelean in 2013 begin om aksiekrieket te speel en sy is dieselfde jaar nog vir die o.16 Limpopo-aksiekrieketspan gekies.
Sy was ook ‘n lid van die Limpopo Interprovinsiale Aksiekrieketspan (IPL) wat verlede jaar in Kaapstad teen Suid-Afrika se bestes te staan gekom het.
Helgelean verteenwoordig die provinsie weer vanjaar in die toernooi wat Maandag by die Action Sportarena afgeskop het en na verwagting môre (Vrydag) sal eindig.
Amptenare van Aksie Krieket Suid-Afrika het Helgelean se talent raakgesien en haar genooi om aan die proewe vir die nasionale o.18-span deel te neem. Sy het ongelukkig die span se ouderdomsperk met slegs drie maande oorskry en moes van die proewe onttrek.
Helgelean vertel dat haar sterkpunt op die baan haar blitsige boulhand is en sê ook dat dit ‘n kuns is om die bal op beide die veld en in ‘n arena korrek te kan moker.
“Ek is gelukkig om ‘n ongelooflike ondersteu-ningsnetwerk te hê. My tweelingsuster, Chanté en my ma, Isabella, moedig my pal aan om my spel te slyp en hard te oefen,” sê sy.
Isabella is baie trots op die uitblinker se prestasies en op die deursettingsvermoë wat sy aan die dag lê wanneer sy ure lank moet oefen.
Helgelean se rolmodel en gunsteling krieketspeler is AB de Villiers en sy is veral beïndruk met sy kolfwerk. “Hy word beskou as een van die beste kolwers in die wêreld.”
Haar mikpunt is om vir die Suid-Afrikaanse vrouespanne gekies te word in beide veld- en aksiekrieket en om eendag in Australië te speel. “Ek wil graag eendag ‘n beroemde krieketafrigter word én ‘n beroep in die toerismebedryf volg.”

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Exit mobile version