Twee aksienetbalspelers na Nieu-Seeland vir Wêreldbeker

Wanneer Christiaan Heymans en Elouise Venter se prestasies op die aksienetbalbaan in ag geneem word, is dit geen verassing dat hulle onlangs gekies is om Suid-Afrika tydens volgende jaar se Aksienetbal Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te verteenwoordig nie. Heymans en Venter is die enigste twee spelers van Limpopo wat vir hierdie span gekies is. Hulle het …

Wanneer Christiaan Heymans en Elouise Venter se prestasies op die aksienetbalbaan in ag geneem word, is dit geen verassing dat hulle onlangs gekies is om Suid-Afrika tydens volgende jaar se Aksienetbal Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te verteenwoordig nie.
Heymans en Venter is die enigste twee spelers van Limpopo wat vir hierdie span gekies is.
Hulle het die goeie nuus tydens die Interprovinsiale Binneshuise Netbaltoernooi, wat onlangs in die Kaap aangebied is, gehoor.
Heymans was kaptein van die mansopespan van Limpopo wat aan hierdie toernooi deelgeneem het.
Beide uitblinkers is opgewonde en trots op hul prestasie, maar hulle is nog nie seker wat om van die ervaring te verwag nie.
Heymans speel reeds die afgelope vyf jaar aksienetbal en het vanjaar vir die vierde keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem.
“Familie het my een aand genooi om saam met hulle aksienetbal te speel en die gogga het my dadelik gebyt. As jarelange ringbalspeler het aksienetbal net vir my meer gebied. Dit was ook tyd vir ‘n nuwe uitda-ging,” sê Heymans.
Sedert skooldae as Hoërskool Pietersburg (PHS)-leerder het Heymans op die ringbalbaan uitgeblink. “Ek het vyf keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem en een keer Springbokkleure verwerf,” sê hy.
Hy beskou aksienetbal as ‘n uitdaging. “Dit is nie ‘n maklike sport nie en ‘n mens moet baie fiks wees om ‘n sukses van die spel te maak. Aksienetbal is die ideale sport vir iemand wat fiks wil bly en van uitdagings hou,” sê hy en verduidelik die beste eienskappe vir ‘n goeie aksienetbalspeler is ‘n positiewe houding en deursettingsvermoë.
Hy wil graag as Speler van die Toernooi aangewys word tydens volgende jaar se wêreldbeker.
Venter is ook ‘n ou hand op die aksienetbalbaan en neem sedert skooldae aan dié sport deel. Sy het ongeveer twee jaar gelede die Kaap vir Polokwane verruil en by die plaaslike aksienetbalklub aangesluit.
“Op skool het ek gewone netbal gespeel, maar aksienetbal was my eerste liefde. Ek het as o.16-meisie begin en reeds as o.18-speler vir die provinsiale span uitgedraf. Daarna het ek weer provinsiale kleure vir o.21 en o.23 verwerf. Een van die hoogtepunte was toe ek as o.21-speler vir die Suid-Afrikaanse span gekies is,” sê Venter.
Sy is dit eens met Heymans dat fiksheid ‘n groot rol in sukses op die baan speel.
“Mens kan nie genoeg klem daarop lê nie. Dit is ‘n vinnige spel en as jy nie fiks is nie, gaan jy moeg word en nie meer helder kan dink nie. Dit sal dan die hele span se gees demper,” sê sy.
Sy voel sy het haar mikpunt bereik met haar onlangse prestasie.
“Dit het jare se harde werk en oefening geverg om dit te bereik. Elke keer wat ek op die baan gestap het, het ek net my beste gegee en dit het uiteindelik vrugte afgewerp.”
Die twee is dit eens dat die lekkerste aspekte van aksienetbal die kameraadskap tussen spanmaats en die adrenalien-belaaide spel is.
“Ons is bevoorreg om deel van so ‘n aangename span te wees. Spelers gaan uit hul pad om die spel vir mekaar lekker te maak. Ons afrigters is ook wonderlike mense met ‘n passie vir wat hulle doen wat grootliks tot ons sukses bydra.”

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version