EntertainmentLifestyle

Opgeknapte Swift 1.2 en DZire nou selfs nog meer spoggerig

SUZUKI Auto Suid-Afrika het 'n rits verbeteringe vir sy Suzuki Swift 1.2- en DZire-modelle aangekondig. Die veranderinge sluit aangepaste stilering en 'n opgeknapte binneruim in.

SUZUKI Auto Suid-Afrika het ‘n rits verbeteringe vir sy Suzuki Swift 1.2- en DZire-modelle aangekondig. Die veranderinge sluit aangepaste stilering en ‘n opgeknapte binneruim in.

Daarbenewens sorg verbeterings aan die enjinbeheerstelsel vir ‘n vermindering in brandstofverbruik, met ‘n gepaardgaande verlaging van CO2-uitlaatgasvlakke.

Wat die buitevoorkoms aanbetref, spog dié Swift en DZire-weergawes met ‘n nuwe sierrooster en voorste buffer, terwyl die DZire ook met ‘n nuwe kopligsamestel en ‘n herontwerpte buffer agter toegerus is. Die volgrootte wieldoppe is eweneens nou standaard, terwyl albei modelle met ‘n reeks nuwe verfkleure bestel kan word.

Binne word alle GL-weergawes nou met Bluetooth-koppeling toegerus, terwyl die Swift 1.2 se banksitplek agter ter wille van groter veelsydigheid nou 60:40 verdeel is. Die DZire se binneruim spog boonop met nuwe, deftige donker doekstofbekleedsel.

Soos voorheen word albei motors deur ‘n viersilinderenjin van 1,2 liter aangedryf. Dié kragbron het ‘n maksimum-kraglewering van 62kW by 6 000rpm, met ‘n gepaardgaande wringkragpiek van 115Nm by 4 000rpm.

In die geval van die Swift 1.2 het die brandstofverbruik van die handratweergawe in die gekombineerde siklus van 5,7 liter per 100km tot net 5,2 liter per 100km gedaal.

Die outomatiese weergawe se verbruiksyfer is 5,8 liter per 100km, met die vorige weergawe se 6,3 liter per 100km verbuiksindeks. Die DZire behaal soortegelyke vebeterings wat verbruik betref. Die handratweergawe se verbruik daal van 5,7 liter per 100km tot 5,2 liter per 100km.

Die outomatiese ratkas-weergawe se 5,9 liter per 100km is eweneens aansienlik laer as die 6,3 liter per 100km van die vorige model. Die Swift 1.2 en DZire word deur Maruti Suzuki in Indië vervaardig.

Die maatskappy, wat in Desember 1983 begin sake doen het, het onlangs ‘n geskatte produksiegetal van 15-miljoen eenhede behaal.

Kleinhandelspryse:

Swift 1.2:

• 1.2 GA Handrat – R131 900

• 1.2 GL Handrat – R143 900

• 1.2 GL Outomaties – R158 900

Dzire 1.2:

• 1.2 GA Handrat – R133 900

• 1.2 GL Handrat – R145 900

• 1.2 GL Outomaties – R160 900.

Soos voorheen word alle Swift 1.2 en DZire-modelle met ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km ondersteun, terwyl ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km ook ingesluit is.

Related Articles

Back to top button