Richardo droom om gholf verder te vat

Onthou gerus die naam Richardo Loock – want dié 16-jarige gholfspeler gaan nog groot naam maak.

POLOKWANE – Onthou gerus die naam Richardo Loock – want dié 16-jarige gholfspeler gaan nog groot naam maak.

Richardo is ‘n lid van die Limpopo o/23-gholfspan.

Die span het onlangs in Johannesburg aan die Suid-Afrikaanse Gholfvereniging se provinsiale spangholfkampioenskappe deelgeneem.

Richardo het ook onlangs saam met die gholfspan van PHS, waar hy skoolgaan, in Parys aan die Tuksreeks gaan deelneem. Hy beklee tans die eerste posisie op die skool se gholfleer.

Die gholfgogga het hom sewe jaar terug gebyt, toe hy gesien het hoe sy pa gholfspeel.

Hy geniet die reise baie.

“Mens ontmoet soveel nuwe mense en nuwe vriende, en dit maak die sport ook lekker,” vertel hy.

Die prestasie waarop hy die trotste is, is toe hy die Limpopo Junior 72-gat Kampioenskappe gewen het.

Vir oefen skrik hy ook nie.

Hy oefen sowat vier tot vyf keer ‘n week onder die afrigting van Ray Erle en speel gereeld ‘n pot saam met sy pa, Johnny.

Gholfspeler Rory Mcllroy is sy inspirasie.

“Hy is ‘n fantastiese gholfspeler en hy was al op ‘n jong ouderdom die wêreld se nommer een, sy speltemperament is ook baie goed,” sê Richardo. Richardo mik daarna om professioneel gholf te speel, maar as hy wel ‘n kantoorwerk moet kies, sal hy eendag wil rekenmeester word. Alhoewel hy die plaaslike klub se baan geniet, is sy gunsteling gholfbaan die Gary Player Country Club by Sun City.

“Dit is ‘n moeilike en uitdagende, maar tog ‘n interessante baan,” vertel hy.

Wat verg dit om ‘n bobaas gholfspeler te wees?

“Gholf verg baie geduld en konsentrasie, en daar is ook genoeg geld in die sport as ‘n mens regtig goed is,” sê Richardo.

Exit mobile version