Ockie laat die musiek van Christa Steyn weer leef

Vir vele Afrikaanssprekende mense is die werke van pianis, komponis en sanger, Christa Steyn, deel van hul kultuurskat. Vir Ockie Vermeulen is Christa Steyn ‘n vriendin, mentor en inspirasie.

POLOKWANE – Vir vele Afrikaanssprekende mense is die werke van pianis, komponis en sanger, Christa Steyn, deel van hul kultuurskat.
Vir Ockie Vermeulen is Christa Steyn ‘n vriendin, mentor en inspirasie.
Ockie vertel dat sy jarelange musiekverbintenis met Christa in 1990 begin het met ‘n telefoonoproep waarmee sy haarself aan hom bekendgestel het.
Volgende Woensdag, 4 Maart, bring Ockie sy huldeblyk aan die musiek van Christa na Polokwane. Hy vertel meer oor sy produksie, My Obsessie met Christa Steyn, wat hy by die N.G. Kerk-Moedergemeente sal uitvoer.
“Dit is ‘n multimediaproduksie as viering van die lewe en musiek van ‘n Suid-Afrikaanse musieklegende. Ek speel op die orrel met die begeleiding van ‘n vituele orkes wat op die grootskerm geprojekteer word,” verduidelik hy.
Alhoewel Ockie van jongs af ‘n musikant was en op 13 jaar reeds as permanente orrelis by ‘n gemeente aangestel is, vertel hy hoe die lewe eers ‘n ander draai met hom geloop het.
“Ek het eers in ‘n B.Com-rigting studeer voordat ek besluit het om my hart te volg en musiek te studeer aan die Universiteit van Pretoria. Ek het onder dr. Hetta Potgieter en later prof. Wim Viljoen studeer en uiteindelik my B.Mus-graad behaal,” sê hy.
Ockie se prestasies sluit ook ‘n Unisa gr. 8 en lisensiaat vir kerkorreliste, ‘n gevorderde sertifikaat in kerkmusiek van die Royal School of Music, en ‘n diploma in kerkmusiek in.
Hy spog met suksesvolle optredes by bekende kunsfeeste soos Aardklop en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en tree gereeld saam met die Kamerorkes van Suid-Afrika op as solis en continuo-speler.
Ockie sê hy sien baie daarna uit om die werke van Christa Steyn weer lewe te gee in Polokwane volgende week.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version