Deeltitelhuurders: vermy dié slaggate

MENIGE huurder verander dié tyd van die jaar van blyplek, maar hulle moet op 'n paar slaggate bedag wees voordat hulle 'n nuwe huurkontrak vir 'n deeltitel woonstel of meenthuis teken.

MENIGE huurder verander dié tyd van die jaar van blyplek, maar hulle moet op ‘n paar slaggate bedag wees voordat hulle ‘n nuwe huurkontrak vir ‘n deeltitel woonstel of meenthuis teken.

Eerstens moet hulle seker maak dat die skema se geldsake gesond is en goed bestuur word. Indien eienaars in die skema nie gereeld hul heffings betaal nie en die regspersoon se beursie leeg is, is die kanse goed dat instandhouding van die gebou of kompleks afgeskeep gaan word, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“As die eienaar van die eenheid wat hulle huur een van die wanbetalers is, kan die eenheid na beslaglegging verkoop word om die koste te verhaal, wat huurders in ‘n ongemaklike posisie gaan plaas.”

Huurders moet ook baie seker maak presies wat deur hul maandelikse huur gedek word en of hulle deur enige stygings in heffings geraak gaan word, en indien wel, tot watter mate.

“Die eienaar of verhuurder van ‘n eenheid in ‘n deeltitelskema is gewoonlik verantwoordelik vir die onderhoud en enige herstelwerk aan die binnekant van die eenheid, terwyl onderhoud aan die buitekant en in gemeenskaplike areas soos tuine en motorhuise die regspersoon se verantwoordelikheid is en uit maandelikse heffings befonds word.

“Dis nie ‘n uitgemaakte saak dat jaarlikse verhogings van heffings of enige spesiale heffings op eienaars geen invloed op huurgeld gaan hê nie. Voordat hulle ‘n huurkontrak teken, moet huurders die huurkontrak noukeurig nagaan en seker maak of die eienaar daarop geregtig is om huurgeld te verhoog indien heffings styg.”

Voornemende huurders moet terselfdertyd moet uitvind of parkeerplek of gebruik van ‘n stoorkamer byvoorbeeld by die huur ingesluit word en of dit afsonderlik betaal moet word, sowel as wat die koste van munisipale dienste gaan beloop.

“Eenhede met hul eie meters vir water en elektrisiteit is altyd meer voordelig.”

Die derde aspek wat nagegaan moet word is die gedragsreëls wat op die skema van toepassing is. Volgens wet moet ‘n afskrif van die reëls by die ondertekende huurkontrak aangeheg word, maar dit is nuttig om die reëls vooraf noukeurig te lees.

“Die huurkontrak mag dalk nalaat om die aanhou van troeteldiere aan te spreek, maar indien die gedragsreëls die aanhou van diere verbied sou dit alle partye baie hoofbrekens bespaar as almal hulle van die reëls vergewis voordat die kontrak onderteken word.

Laastens, sê Everitt, moet voornemende huurders onthou dat deeltitelskemas gewoonlik beter bestuur word indien die trustees ‘n agentskap aangestel het om heffings in te vorder.

Related Articles

Back to top button