Tuinbou-lede leer meer oor kunsmis

Die stad se tuinbougeesdriftiges het verlede Dinsdag by die maandelikse Tuinbouklub-vergadering meer geleer oor die voordele van natuurlike tuinmaakmetodes en kunsmis.

POLOKWANE – Die stad se tuinbougeesdriftiges het verlede Dinsdag by die maandelikse Tuinbouklub-vergadering meer geleer oor die voordele van natuurlike tuinmaakmetodes en kunsmis.

“Grondvrugbaarheid is baie belangrik. As grond nie vrugbaar is nie, kan die plante se groeiprosesse nie werk nie. Chemiese kuns-mus maak grond sout en dan moet plante harder werk om gesond te bly,” het Hein Faber verduidelik. Ook het hy verduidelik hoe mikrobes werk. “Hoe meer jy in jou grond sit, hoe meer word hulle.”

Hein sê diversiteit in enige tuin is belangrik en hy beveel aan dat tuiniers verskillende plante saamgroepeer. Volgens hom lok elke plant ‘n ander insek en kan die plante mekaar help.

“Balans en harmonie in jou tuin is ook baie belangrik. Dit kry jy deur middel van tekstuur en ontwerp. Verskillende blare en kleure. Jy moet ook altyd variteit behou en kontras is baie goed vir jou grond.”

Hein het vertel dat kompos noodsaaklik is en dat mens dit self kan maak. Die funksie van kompos is om ‘n beskermde laag op die grond te gee en om ‘m substraat, of broeiplek, vir organismes te vorm.

“Hoe meer jy die mikroörganismes voer, hoe meer breek hulle af wat weer voedingstowwe aan die plante gee.”

Volgens Hein is daar twee verskillende tipes kompos naamlik C3 en C4; C3 is dierlike produkte en C4 is grasserige produkte soos blare, bas en tuinafval.

Marie Grobler het ook met die lede gesels oor die Amaryllis.

“Amaryllis is ‘n ware bolplant. Hy groei in die somer en rus in die winter. Afhangende van die planttyd, blom hy in die lente of somer.”

Volgens Marie is Amaryllis hoofsaaklik potplante alhoewel hulle ook met groot welsae in die tuin geplant kan word. Sy raai kopers aan om stewige, nog dormante, meeldouvrye, onbeskadigde bolle vroeg in die seisoen te koop.

“Plant hulle voor hulle uitloop.”

Sy het tuinbouklub lede geleer hoe om die bolle suksesvol te plant asook raad gegee oor hoe om heel jaar blomme te hê en laastens het sy die probleme wat kan ontstaan bespreek.

Exit mobile version