Bernadine kry ‘n fotograaf om ‘n sprokiesdag op film te verewig

Menige bruide sal saamstem dat die fotograaf 'n baie belangrike element is van enige troue.

POLOKWANE – Menige bruide sal saamstem dat die fotograaf ‘n baie belangrike element is van enige troue.

Mens wil tog immers elke oomblik van jou mooiste dag onthou. Die tyd stap aan en Bernadine Hugo en Gert du Preez se troudatum kom nou vinnig nader.

Sané Meyer, bekende fotograaf van Polokwane en eienaar van Purple Feather Photography, het aangebied om dié paartjie se troufoto’s te neem.

Verlede Donderdag het sy en Bernadine koppe bymekaar gesit om die troue se onthougrepies te beplan.

“Review het my geskakel om uit te vind of ek nie sou belangstel om deel te wees van die Bernadine-projek nie. Nadat ek haar storie gehoor het, het ek ingestem,” het Sané vertel.

Vir Sané is kanker iets wat haar na aan die hart lê.

“Dit is ‘n bitter siekte wat baie mense se lewens eis met geen ouderdomsbeperking nie,” vertel sy.

“My beter helfte se ma is aan kanker oorlede en ek ken baie mense wat hul geliefdes aan kanker moes afstaan.”

Dít, vertel sy, is waarom sy so graag wou deel wees van hierdie projek.

“In ‘n oogwink kan mens se lewe verander.”

“Hiermee skenk ek dan ‘n volle pakket aan Gert en Bernadine op hul troudag. Dit sluit 100 Jumbo-grootte gedrukte foto’s, vier A5-grootte gedrukte foto’s en twee A4-grootte gedrukte foto’s in.

“Alle gemanipuleerde foto’s sal op DVD wees asook alle ongemanipuleerde foto’s.

“Verder stel ek myself vir agt ure tot hul beskikking op hul troudag.”

Bernadine is in die wolke oor die nuus.

“Voorheen het ek kwotasies by Sané gekry en ek is so bly dat ek nou saam met haar kan werk.

“Ek het reeds na haar foto’s op Facebook gaan kyk en dit is absoluut pragtig.”

Exit mobile version