Spaar só water in jou huis

Bespaar water in jou huis met dié wenke.

Bespaar water in jou huis met dié wenke.

• Draai die kraan toe wanneer jy jou tande borsel (bespaar tot 20 liter water) of skeer (bespaar tot 45 liter water).

• ‘n Bad gebruik gemiddeld 160 liter water en ‘n vyf-minute stort 60 liter. Stort dus in plaas daarvan om te bad. As jy moet bad, tap min water in of deel jou bad.

• Herwin badwater vir die tuin en spaar so baie water.

• Maak seker jou wasmasjien of skottelgoedwasser is volgelaai voordat jy dit aanskakel.

• Spoel glase, eetgerei en groente in ‘n opwasbak eerder as onder ‘n lopende kraan af. Jy kan hierdie water weer vir potplante of in die tuin gebruik.

• Installeer ‘n waterbesparingstoestel of sit ‘n halwe plastiekbottel in die toilet se spoeltenk. Só kan jy tot 7 300 liter water per jaar bespaar.

• ‘n Lekplek in jou toilet kan tot 30 liter water per uur mors. Kyk of jou toilet lek deur ‘n paar druppels voedselkleursel in die watertenk te gooi. As die kleur in die toiletbak insypel, is daar ‘n lekplek wat so gou as moontlik herstel moet word.

• Maak seker al die krane is behoorlik toegedraai. ‘n Druppende kraan (een druppel per sekonde) kan tot 30 liter water per dag mors. Dit is gelykstaande aan 10 000 liter per jaar.

• Vervang kraanwassers gereeld en sit lugspuite in krane om die vloei van water te beperk en te versprei. Dit bespaar water, maar dit voel of jy dieselfde hoeveelheid water gebruik.

• Gaan jou waterpype gereeld vir lekplekke na en kry ‘n loodgieter indien nodig.

Exit mobile version