School sportSport

Swemmers laat die rekords spat by Ouderdomsgala

Altesaam vier rekords het in die slag gebly tydens Laerskool Krugerpark se Ouderdomsgala verlede Donderdag.

MOKOPANE – Die swemmers wat gesorg het vir rekords is Ruben Glover, senior seun in die 200 m individuele wisselslag, Immeré Botha, senior meisie in die 200 m wisselslag, Stephanie Dannhauser, meisies o/8 50 m rugslag en 50 m borsslag.

Ruben Glover is aangewys as die senior Victor Ludorum en Immeré Botha as die senior Victrix Ludorum.

Ruben Glover het gesorg vir ‘n rekord in die 200 m individuele wisselslag.

Vir die junior seuns was LW Lourens as Victor Ludorum en Stephanie Dannhauser as junior Victrix Ludorum aangewys.

Die swemmers het die oggend se verrigtinge terdeë geniet en gewys hulle is slaggereed vir die swemseisoen. Hulle dring deur na die interlaergala wat op 21 Oktober in Groblersdal aangebied word.

Bosveld het gesels met die swemmers wat rekords opgestel het tydens die gala. Ruben Glover sê: “Dit was vir my ‘n groot verrassing toe ek hoor ek het die tyd in die 200 m wisselslag verbeter tot 02:23,80. Ek oefen vyf dae per week vir so twee ure lank”.

Glover sê hy sien uit om deel van Hoërskool Piet Potgieter se swemspan te wees. Die swemspan wen die afgelope paar jaar reeds die sweminterhoër.

Die skool kry aanstaande jaar ‘n blink nuwe swembad waarin die swemmers sal kan oefen en deelneem in verskeie galas.

Immeré Botha sê sy het verbeter, “Ek het voorheen nie gedink ek staan ‘n kans om te wen nie. Die keer was ek positief om te wen”.

Haar liefde vir swem het kleintyd in die water begin. Botha begin ook haar Hoërskoolloopbaan volgende jaar by Piet Pot en sien uit daarna om weer teen ou en nuwe teenstaanders te swem.

Haar tyd in die 200 m wisselslag was 02:29,63.

Volgens Stephanie Dannhauser het sy nooit verwag om ‘n rekord op te stel nie. Sy swem ‘n tyd van 0:54,06 in die 50 m borsslag en ‘n tyd van 0:44,27 in rugslag. Sy sê: “Ek hou van wen en daarom oefen ek baie hard en swem vier keer per week”.

Die swemmers haal alles uit vir wenplekke op die podium.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button