Bokkies wys baltalent

Toeskouers kan uitsien na 'n wintersportskouspel wanneer die gewilde AVS Bokkieweek van 10 tot 14 Julie op die sportvelde van Hoërskool Hans Strijdom gehou word.

MOKOPANE – Die land se Bokkiespanne is eersdaags op die sportvelde in Mookgophong om die koue winter op te kikker.

Toeskouers kan uitsien na ‘n wintersportskouspel wanneer die gewilde AVS Bokkieweek van 10 tot 14 Julie op die sportvelde van Hoërskool Hans Strijdom gehou word. Vanjaar is daar 16 unies vanoor die hele land se spanne wat teen mekaar gaan kom meeding.

Die openingseremonie wat ‘n skouspel van kleur en klank beloof, is op die A-rugbyveld op 10 Julie om 18:00 met die gewilde sanger Dewald Wasserfall as kunstenaar.

Die gewilde sanger, Deon Wasserfall gaan by die opening van die AVS Bokkieweek optree. Foto: Verskaf

Rudolph de Vos, organiseerder, sê 3 500 kinders en beamptes is deel van die week se spel. Die spanne gaan mekaar opkeil op die rugby- en hokkievelde en netbalbane. Daar is ook Bokkie-redenaarspanne wat gaan debatteer in die skoolsaal van Laerskool Eugene N Marais.

“Ons het baie geld spandeer om te verseker dat die sportvelde in tiptop kondisie is vir ‘n suksesvolle Bokkieweek. Die rugbyspanne van Verre Noord en Wes Transvaal sal in die openingswedstryd op die A-veld om 20:00 in aksie wees.”

Die skool se vier rugbyvelde word ingespan vir al die wedstryde en al agt netbalbane gaan gebruik word. Die hokkiespanne sal op die drie velde van die Hansies speel, asook by die Euphorbia Skool en die Laerskool Eugene N Marais. Die Bokkieweek dien ook as ‘n goeie inspuiting vir die dorp se ekonomie met vakansiegangers wat inboek by al die oorde.

Die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) het in 1991 ontstaan toe ouers, onderwysers en leerders saamgestaan het om kultureel verbonde te bly aan die Afrikanervolk deur in taal en tradisies ‘n volk entiteit te behou.

Die AVS is nie ‘n politieke beweging nie en nie verbonde aan enige politieke party nie. Die doel is slegs om geleenthede te bied vir kinders en volksgenote wat dieselfde kultuurwaardes as die AVS wil handhaaf.

Die Bokkieweke staan glad nie in kompetisie met enige ander sportgroeperinge nie en speel ‘n ondersteunende rol op amateurvlak vir enige sportsoort wat dit wil aangryp. Die organisasie sê AVS wil erkenning geniet by die Afrikanervolk en in die wêreld. “AVS wil graag ‘n kulturele diensorganisasie wees vir die Afrikanervolk en wil selfs internasionaal erken word op dieselfde etniese vlak as die Maccabiah-spele, Maori rugbyspanne en die Kaapse Klopse.”

Alle skole ken nie erekleure toe aan leerders wat vir ‘n Bokkieweek gekies word en daaraan deelneem nie. Tog is AVS baie dankbaar vir die toenemende aantal skole wat wel erekleure toeken aan Bokkieweekspelers. Die organisasie sê dit is veral verblydend omdat die Bokkieweek ‘n prestige- geleentheid is met ‘n baie hoë standaard en die deelnemers op meriete gekies word.

“Die Bokkieweke wat deur AVS gereël word, is interprovinsiale mededinging tussen sportspanne uit die totale binneland en sal uiteindelik die hele Suid-Afrika insluit. In 2009 is ons bevoorreg om Oos-Vrystaat as nuwe unie by AVS te verwelkom, en Vrystaat volg in 2012. Die o/19-Bokkiespanne word tydens die Bokkieweek gekies vir al die betrokke sportsoorte.

Die unies se beste netbalspanne sal in aksie gesien word.

Unies wat aan die Bokkieweek deelneem sluit in Verre Noord, Vrystaat, Griekwas, Transvaal, Oos Transvaal, Wes Transvaal, Noord Transvaal, Suidoos Transvaal, Noord Vrystaat, Oos Vrystaat, Hoëveld Stelleland, Vaaldriehoek en Natal. Die CVO skole se BCVO-spanne neem ook deel.

Kaartjies vir die openingseremonie kan by die Hansies se skoolkantoor gekoop word. Die vertoning met Wasserfall as kunstenaar is R85 vir volwassenes en R30 per kind.

redakteur.bosvelder@nmroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version