School sportSport

PHS vat vas in harde stryd

Helpmekaar het eindelik met 32-20 koning gekraai in 'n uiters fisieke wedstryd.

POLOKWANE – In wat as ‘n wraakstryd beskou was het die Hoërskool Pietersburg (PHS) se eersterugbyspan Saterdag op sy tuisveld weer kragte met die Johannesburgse span van Helpmekaar Kollege gemeet en moes na ‘n klipharde stryd as verloorders van die veld stap.

In dié herontmoeting was daar veel meer op die spel vir die tuisspan (PHS) omdat dit ‘n uitspeelronde van die Beeld Noordvaal Trofee is. Helpmekaar het eindelik met 32-20 koning gekraai in ‘n uiters fisieke wedstryd. In die twee spanne se eerste vriendskaplike ontmoeting in Mei vanjaar, ook op PHS se tuisveld, het Helpmekaar gemaklik met 58-28 gewen.

As die besoekers gedink het hul gaan weer maklik vir Pietersburg klop, was hulle gou verkeerd bewys. PHS was dié keer ‘n perd van ‘n ander kleur en het die Johannesburgers deurgaans op hulle tone gehou: vandaar die rustydtelling van 13-8 in PHS se guns. En waar Helpmekaar in die vorige stryd gate deur die verdediging gehardloop het, het Pietersburg dié keer hul man rotsvas gestaan.

Helpmekaar moes veral in die laaste 20 minute hard gewerk het om van agter af hul pad oop te veg om Pietersburg te kan baasraak. Helpmekaar het dus nie sy oorwinning op ‘n silwer skinkbord ontvang nie en Pietersburg kan hul koppe trots omhoog hou vir die moedige stryd van hul 15-tal wie hul teenstanders by tye hard met die tuisveld se gras kennis laat maak het.

Ongelukkig vir Pietersburg knik hierdie verloorslag hulle uit die Beeld Noordvaal Trofee.

Pietersburg se drieëdrukkers is die buitesenter, JV Coertze, en die loskopstut, Stefan Schoeman. Die twee stelskoppe sowel as die doelskoppe is deur Pietersburg se heelagter, Morné Venter, oorgeskop.

Hoërskool Pietersburg vs Helpmekaar Kollege, Beeld Noordvaal Trofee uitslae:

• Eerstespanne – PHS 20 – Helpmekaar 32

• o/14: PHS 8 – Helpmekaar 29

• o/16: PHS 5 – Helpmekaar 47.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

 
Back to top button