School sportSport

Beeld-trofee is in PHS se visier

Hoërskool Pietersburg se o/16A-rugbyspan sal Saterdag in die Beeld-trofee finaal teen die span van Hoërskool Ben Vorster te staan kom in Klerksdorp.

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg se o/16A-rugbyspan sal Saterdag in die Beeld-trofee finaal teen die span van Hoërskool Ben Vorster te staan kom in Klerksdorp.

Dit is die derde jaar dat hierdie span in die Beeld-finaal speel en die spanlede is dit eens dat hulle die Beeld-trofee huistoe sal bring. Hulle het dié trofee in 2012 as o/14-span en in 2013 as o/15-span gewen.

Die span, onder leiding van Sybrand Koedyk en Paul Erasmus, vertrek Vrydag na Klerksdorp.

PHS se skoolhoof, Willie Schoeman sê hierdie span laat die hele skool se harte warm klop van trots.

“Dit is vir enige skool ‘n eer om geskiedenis te maak wanneer een van die sy spanne die Beeld-trofee drie jaar in ‘n ry wen. Ons verneem dat dit nog nooit in die geskiedenis gebeur het nie. As skool is ons baie trots op die seuns en bewonder hulle vir die druk wat hulle redelik gemaklik in ‘n Beeld-finaal absorbeer.

“Die seuns weet dat, wanneer hulle Saterdag op die veld draf, die hele PHS saam met God se groot genade, agter hulle staan. Ons wens hulle sterkte toe,” sê Schoeman.

Die afrigters, Koedyk en Erasmus, skryf hulle span se sukses toe aan die feit dat hulle by die basiese aspekte van die spel hou.

“Ons gebruik geen fancy bewegings nie. Ons oefen al die fasette elke middag in. Daar heers ‘n goeie gees onder die seuns en hulle speel vir mekaar, vir hulle afrigters en vir hulle skool. Die span se ouers speel ook ‘n baie belangrike rol in terme van ondersteuning en motivering,” sê Koedyk.

Oud-Pietie en voormalig Stormers en WP-rugbyspeler, Deon Fourie, se lewensleuse is vir die span ‘n inspirasie.

“Kampioene word nie in gimnasiums gemaak nie. Kampioene word gemaak van iets binne in hulself; ‘n begeerte, ‘n droom, ‘n visie.”

Related Articles

Back to top button