Local sport

Jukskeibaan-heropening: groot sukses

Die Pietersburg Jukskeiklub het Saterdag die Limpopo junior opedag en die heropening van die klub gevier met spanne wat mekaar die stryd aangesê het.

POLOKWANE – Die skeie het vir die eerste keer in langer as vier jaar weer by Pietersburg Jukskeiklub deur die lug getrek.

Die klub het Saterdag die Limpopo junior opedag en die heropening van die klub gevier met junior-, senior-, sosiale- en besigheidspanne wat mekaar die stryd aangesê het.

Die inisiatief om die bane te heropen is ‘n paar maande gelede deur junior komiteevoorsitter, Adriaan Venter en jukskeiliefhebber en speler, Hardus Swanepoel van stapel gestuur, en plaaslike besighede en borge het ingespring om die bane en die klubhuis weer op standaard te bring.

Die bane en die klubhuis is veral tydens die Covid-19-grendeltyd deur vandale geplunder en besteel.

Altesaam 34 spanne en 139 spelers het in die B-, C- en sosiale- of besigheidsafdeling ingeskryf terwyl daar eetgoed en koeldrank verkoop is.

Plaaslike besighede het ook stalletjies gehad waar spelers tussendeur spel kon rondsnuffel.

“Daar was ou en nuwe spelers. Al die terugvoer wat ons gekry het, was positief. Ons mikpunt is om Limpopo-jukskei te laat groei en ons unie weer ‘n mededingende unie te maak. Ek is bevoorreg om ‘n bestuurspan te hê wat saam staan en hande vat. Ek wil ook al die besighede vir die borge en pryse bedank sowel as die munisipaliteit wat ingespring het om die terrein en klubhuis op standaard te kry,” sê Venter.

Limpopo Jukskei Unie se voorsitter, De Graaff Genis het sy dank teenoor Venter en Swanepoel uitgespreek.

“Die heropening van die Pietersburg Jukskeiklub het baie sweet en bloed geverg. Dankie aan die organiseerders, besighede en spelers wat die dag ondersteun het.”

Alhoewel daar punte gehou is, het geen span leë hande huis toe gegaan nie.

In die B1-afdeling het Tarentale met die louere weggestap terwyl die B2-afdeling deur die Dream Team gewen is.

In die C1-afdeling het Soutpan koning gekraai sowel as in die C3-afdeling waar Soutpan die eerste plek met ‘n gekombineerde span van Bela-Bela en Mookgophong gedeel het.

Die C2-afdeling is deur F.R.I.E.N.D.S gewen. In die sosiale-afdeling het Die Oog met die wenprys weggestap.

Om verder geld vir die klub en die juniors in te samel, verkoop hulle tans lootjies teen R100 vir ‘n jagpakket.

Vir kaartjies of om by die klub betrokke te raak, skakel vir Sonet Venter by 078 575 7774.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button