Sibbe ryg rosette in vir perdry

Barend en Kiara van Dyk het in 2022 mededingend begin deelneem, en geniet dié sportsoort terdeë.

Barend (9) en sy ousus, Kiara (11) van Dyk, twee leerders van Akademie Reformia, het redelik onlangs die vreugde van perdry ontdek.

Sedert hulle in 2022 mededingend begin perdyry het, ryg hulle die rosette in.

Beide ruiters neem deel aan die Western Mounted Games (SAWMGA) wat bekend is vir die speletjies wat ruiter en perd aan moet deelneem. Hulle verteenwoordig hulle skool by Sanesa en SAWMGA.

Barend se perd se naam is Hadya en Kiara ry vir Salina. Beide is Arabiermerries vol houding en persoonlikheid, vertel hulle. Die ruiters behoort aan die Capricorn Western Mounted Games Klub.

Kiara van Dyk. Foto: Verskaf

Speletjies waaraan deel geneem word, sluit in:

• Verskeie paal-oefeninge: ‘n Vinnige en opwindende speletjie waarin die ruiter ‘n deurlopende patroon tussen vertikale pale navigeer met die doel om dit so vinnig en akkuraat moontlik te voltooi.
• Dromresies: Oefeninge waarin ruiters ‘n verskeidenheid van patrone om olie dromme voltooi, terwyl hulle daarna strewe om die vinnigste tyd te behaal sonder om foute te maak.
• Gymkhana-geïnspireerde items soos ‘flag race’, ‘keyhole race’, ‘speedball’ en tegniese items wat die behendigheid, spoed en samewerking tussen ruiter en perd benadruk.
“Dan is daar hurry scurry wat op skouspring gebaseer is. Dit is ‘n dissipline wat gewoonlik in ‘n arena plaasvind waar die ruiter en perd ‘n reeks hindernisse met spronge oorwin. Daar is 13 verskillende speletjies en slegs vyf word by elke kwalifiserende ronde gedoen.”

Kiara en Barend oefen so gereeld as moontlik, met elke geleentheid wat hulle kry.

Barend van Dyk. Foto: Verskaf.

“Die perde is nou by ons op die plaas, wat dit baie makliker maak. Voorheen moes ons na die ryskool gaan om te ry. Ons kry nou meer ure per week se tyd in die saal.

it sluit arenawerk in, wat WMG, spring en basiese dissipline insluit. Deel van die tyd word ook gebruik vir heerlike lang ritte op die plaas en omliggende plase,” sê Kiara.
Bianca Venter van For the Horse, die sibbe se vorige afrigter, sê deeglike afrigting is van uiterste belang.

“Dit bou ‘n goeie fondasie om op voort te bou. As die ruiter se vaardighede korrek ontwikkel is, kan hulle groot hoogtes bereik. Die veiligheid van die ruiter, mederuiters en die perd moet vanaf die begin aangeleer word, en die afrigting hou nooit op nie. Geen ruiter is te ervare om nuwe vaardighede aan te leer nie. Ruiterkuns dra grootliks daarby dat jy jou boodskap duidelik aan jou perd kan oordra. Die perd reageer slegs op die instruksies wat hy ontvang, en dit hang af van die inligting wat hy van jou kry.”

Barend en Kiara van Dyk. Foto: Verskaf.

Barend sê perdry is nie die enigste aktiwiteit waaraan hulle deel neem nie.

“Ons neem ook deel aan al die gewone skoolsportsoorte soos atletiek, rugby, hokkie en netbal. Maar almal weet, perdry kry eerste aandag.”
Kiara vertel van haar leuse vir wanneer dinge moeilik raak.

“As jy val, staan jy op, skud die sand uit jou broek en klim weer op. Dit geld vir alles in die lewe. Met harde werk en vasberadenheid kan ons enige uitdaging oorkom. Soms is die moeilikste deel om te besluit wat om te doen, maar selfs dan leer ons waardevolle lesse en groei ons as individue.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version