Top uitklop vir Morgan Mayoss (15)

Morgan is die jongste persoon nog wat die Captain's Knock Out enkelskompetisie by die plaaslike klub gewen het.

POLOKWANE – Waar die meeste leerders tydens die eksamen skaars hulle neuse by die deur uitsteek, het Morgan Mayoss (15) onlangs besluit om ‘n dag eerder op die gholfbaan deur te bring.

Ook goed so, want dié gr. 9-leerder is die jongste persoon nog wat die Captain’s Knock Out enkelskompetisie by die plaaslike klub gewen het.

“Ek het op die 17de gat se setperk besef ek het die toernooi gewen. Dit was glad nie maklik nie, en my opponent, Thabo Shingange het my tot daar gedruk en gemotiveer.”

Morgan erken hy het hard gewerk vir die eer om as wenner aangewys te word, en het dus geweet hy staan ‘n goeie kans.

“Ek is trots op myself. Ek het hard gewerk en my plan is om volgende jaar terug te kom en weer te speel.”

In sy semifinale wedstryd het hy teen Shaun Mouton, wenner van die Limpopo Closed Match Play Championship te staan gekom en hy sê dit was die moeilikste deel van die kompetisie.

Morgan oefen vyf keer ‘n week en waar sy voorgee ‘n paar jaar terug vyf was, is dit nou twee.

“Die lekkerste gat op Polokwane se gholfbaan is die negende. Dit ‘n baie intimiderende gat. ‘n Mens kan vir die setperk speel of eerder veilig. Ek hou glad nie van die 16de gat nie.

“Dit is ‘n lang baansyfer drie met baie uitdagings soos bome en sandbanke.”

In sy gholfloopbaan skat Morgan hy het al by meer as 50 verskillende bane gespeel.

Die mooiste baan, vertel hy, was by die Gary Player Buiteklub op Sun City.

Dit was ook vir hom die moeilikste baan, terwyl die San Lameer Gholfbaan die maklikste was.

“My gholfrolmodel is beslis Rory Mcllroy. Sy houding en gesindheid op en van die baan af is baie goed, en hy stel ‘n goeie voorbeeld vir ander gholferspelers.

“Ek hou ook van sy speelstyl. Hy speel aggressiewe en aanvallende gholf.”

Sy aanhangers is sy ouers wat hom deurentyd ondersteun, asook Desi Earle van die Polokwane Gholfklub, sy afrigter Mike Baylis en sy spanmaat, Amicus de Beer.

“My droom is om professioneel gholf te speel,” sluit dié jong talent af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version