Mokopane se sterkes bult spier by SA’s

Anesia Coetzee, Robert Labuschagne en Antoinette Human is gewone werksmense net soos ander as hulle nie in HealthZone Gimnasium en op die liggaambouverhoog is nie.

MOKOPANE – Twee liggaamsbouers van die dorp, Anesia Coetzee en Robert Labuschagne het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Liggaamsboukampioenskappe deelgeneem en baie goed gevaar.

Anesia het in die meesters ‘ladies toned bikini’ en in die ‘sportsmodel’-afdeling deelgeneem en ‘n vierde plek verower.

Anesia Coetzee pronk met haar medalje. Foto: Verskaf

Robert het gekwalifiseer vir die ‘classic bodybuilding’ afdeling en het ‘n vyfde plek behaal.

Robert Labuschagne behaal ‘n vyfde plek in sy afdeling. Foto: verskaf

Antoinette Human het in Julie aan die H&H Bodybuilding + Fitness Classic kompetisie in die ‘ladies toned bikini open class’ deelgeneem en haar ‘Pro card’ ontvang wat beteken dat sy nie meer in amateurkompetisies mag deelneem nie, en nou geklassifiseer word as ‘n ‘Pro Bodybuilder’ van Suid-Afrika.

Antoinette Human op die verhoog. Foto: Verskaf

Die drie liggaambouers is gewone werksmense net soos ander as hulle nie in HealthZone Gimnasium en op die liggaambouverhoog is nie. Robert besit sy eie besighede, Anesia doen skoonheidsbehandelings en verhuur aandrokke uit, en Antoinette is ‘n skoonheidsterapeut.

Hulle vertel dat Antoinette so twee jaar terug op die afrigter, Rudie Fourie afgekom het en besluit het sy wil begin oefen, Anesia het haar ondersteun en saam met haar begin, en Robert het later bygekom. Die drie se idee was om een liggaamsboukompetisie aan te pak, maar die gogga het gebyt. Anesia en Robert was heel verbaas toe hulle gekies is om aan die SA-kampioenskappe te gaan deelneem, aangesien dit die eerste keer was wat hulle uitgenooi is.

“Ons geniet die normale kompetisies en wil nie nou dadelik vir ‘n ‘Pro Card’ werk nie. Hiér is jou kompetisies baie beperk, jy mag net vir Physical Culture Association (PCA) federasie staan en as jy oorsee wil gaan moet jy finansieel baie sterk wees.”

Die kompetisies is dalk klaar vir die jaar maar dit beteken nie hulle gaan nou ophou nie, hulle gaan intussen nogsteeds soepel bly en begin voorberei vir volgende jaar se kompetisieseisoen.

“Daar is omtrent 12 liggaambouers in Mokopane en ses van ons oefen by Rudie. Vir ‘n klein dorpie soos Potties is dit nogal baie mense wat in dié sportsoort betrokke is,” vertel Antoinette. Hulle verduidelik dat in ligaamsbou ‘n mens se ingesteldheid, dissipline, intensiewe oefening en om ‘n bepaalde dieet te volg, beslis in jou guns tel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version