Local sport

Deon Fourie maak buiging in Rugby Wêreldbeker

Deon Fourie het sowat 25 jaar gelede met oorgawe vir Pietersburg Laerskool op die flankposisie uitgedraf en net 'n paar jaar later vir Hoërskool Pietersburg waar hy kaptein van die eerstespan was.

POLOKWANE – Bykans twee weke voor Deon Fourie se 37ste verjaarsdag, sal hy vanjaar vir die eerste keer in ‘n Rugbywêreldbeker vir Suid-Afrika uitdraf.

Dié toernooi skop Vrydag af met ‘n wedstryd tussen die gasheerland, Frankryk wat teen Nieu-Seeland te staan sal kom.

Fourie het sowat 25 jaar gelede met oorgawe vir Pietersburg Laerskool op die flankposisie uitgedraf en net ‘n paar jaar later vir Hoërskool Pietersburg waar hy kaptein van die eerstespan was.

Hy speel tans vir die DHL Stormers, en het al sy plek volgestaan onder die land se top vyftiental rugbymanne.

‘n Wedstryd wat beslis uitsonderlik was, was die een waarin Fourie in sy 100ste wedstryd vir die Stormers uitgedraf het, tydens die United Rugby Championship (URC) se 2022-finaal. Dié wedstryd was teen die Blou Bulle, en Fourie is ook as speler van die wedstryd aangewys.

Deon Fourie saam met sy familie, Jean-Marie, Brinley en Jamie.

Hy sê alhoewel die 100-wedstrydmylpaal baie spesiaal was, was die wen ‘n droom wat waar geword het.

“Dit was ongelooflik lekker om weer voor toeskouers te kon speel. Na Covid-19 het die skare stadig maar seker weer begin groei, en daardie Saterdag was hoendervleis-kry-lekker.”

In 2012, voor Fourie by die Franse Rugbyklub Lyon aansluit, wen die Westelike Provinsie die Curriebeker met hom as kaptein.

Begin die ouderdom praat? Nee wat, dié 36-jarige Fourie het nie planne om sy rugbystewels binnekort op te hang nie.

“Party dae is die lyf maar seer, dan voel ek dat uittree baie nader is. Nee, ek spot sommer, ek dink solank ek nog goeie rugby speel en dit geniet sal ek nie gou ophou speel nie. Rugby was nog altyd my droom. Toe die Westelike Provinsie Rugbyunie vir my ‘n kontrak aanbied in matriek, toe besef ek dié droom kan ‘n beroep word,” vertel Fourie.

Sy besluit om oorsee te gaan speel was nie maklik nie en soos hy verduidelik was dit ‘n reuse aanpassing.

“Franse rugby is harde rugby, en dit was baie moeilik om by die skeidsregters aan te pas. Hulle interpretasie van die reëls is baie anders,” noem hy, en voeg sommer vinnig by dat die koue weer dinge beslis nie makliker gemaak het nie.

Alhoewel hy altyd geweet het hy sal sy pad terugvind Suid-Afrika toe, was Frankryk ‘n goeie leerskool.

Enige rugbyspeler weet dat opoffer deel is van jou lewe, en Fourie gee alle krediet aan sy vrou, Jean-Marie.

“Sy het haar drome altyd prysgegee om my te ondersteun, en daar is nie genoeg woorde om dankie te sê nie. Noudat ons kinders het, is dit moeiliker, veral as ek lank van die huis af weg is, maar met ‘n goeie ondersteuningsnetwerk maak ons die beste daarvan,” sê hy.

As Fourie, met dit wat hy nou weet, vir sy jonger self raad kan gee, wat sou dit wees?

“Moenie dinge te ernstig opneem nie. Werk hard en pas jouself op, maar geniet alles wat oor jou pad kom. Dit is ‘n reis. As jy ‘n geleentheid kry om te gaan studeer, doen dit.

Rugby is tydelik, baie goed is tydelik, maar opvoeding is iets wat niemand by jou kan wegvat nie,” voeg hy by.

PLS en PHS se hoofde deel in Fourie se trotse Wêreldbekerbuiging vanjaar:

Oud-skoolhoof Peet Bredenkamp was hoof toe Fourie by Laerskool Pietersburg was.

“Deon was ‘n goeie hoofseun, hy het altyd gelei. Hy het nie gesê hoe die res van die skool moet maak nie, hy het self gewys en so gelewe. Hy is ‘n harde werker wat alles ten volle doen. Die man wat hy op die rugbyveld is, is ook die een wat hy in sy daaglikse omgang met mense is. Hy verdien om die groen en goud oor sy kop te trek.”

PHS-skoolhoof Adolf Ellis is self ‘n groot rugbyaanhanger.

“Vir ‘n man in wie se are rugby klop, is dit met ‘n trotse hart dat ek kan sê hoe trots ons as skool op Deon is. Ons is nie net trots dat hy in die Springbokspan opgeneem is nie, maar ook op sy prestasie tydens verlede Saterdag se wedstryd teen die Bulle.

Hy stel ‘n goeie voorbeeld aan huidige Pieties – deur harde werk, kom jy bo uit.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button