Local sport

Armdruk in Anton se are

Anton Munger het onlangs gekwalifiseer om die land by die IFA Wêreldkampioenskappe in Maleisië te gaan verteenwoordig.

MOKOPANE – Anton Munger is die dorp se voorste armdrukker. Met die eerste oogopslag lyk hy egter nie of daar baie yster in daardie spiere is nie, eintlik maar ‘n doodgewone ou.

Dit is totdat daardie armspiere begin bult, dat jy besef jy is nou in die teenwoordigheid van ‘n atleet wat onlangs gekwalifiseer het om die land by die IFA Wêreldkampioenskappe in Maleisië te gaan verteenwoordig.

Hy vertel dat hy ‘n paar jaar gelede per toeval by armdruk betrokke geraak het.

“By die Roedtan Byjol Rally wat jaarliks gehou word, was daar ‘n sosiale armdrukkompetisie. My vriende het my ingeskryf, maar ek wou niks weet daarvan nie. Ek het toe uiteindelik deelgeneem en tot my verbasing, het ek die dag gewen.”

Anton Munger meet kragte teen Teoniel Steenkamp, en Paul Marais maak seker alles is reg.

Die LYNX Armwrestlingklub het hom raakgesien en genader om deel te word van die klub. “Ek wou niks weet daarvan nie, ek was te bang vir die seer en dat ek ‘n arm sou breek.”

Met min inspanning het hy die volgende jaar egter weer aan ‘n armdrukkompetisie deelgeneem en algeheel tweede gekom. Hy het daar besef dat hierdie ‘n natuurlik talent is, en hy het saam met die klub begin oefen.

“Die eerste ernstige armdrukkompetisie waaraan ek deelgeneem het, was die Arnold Classics. Lynx het my saamgenooi. Ek was weereens baie skepties, en het in die o/86kg-klas deelgeneem en vyfde geëindig, terwyl ek 75kg weeg.”

Hy het verlede jaar vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse Armdrukkampioenskappe deelgeneem, en vierde geëindig in die linkerarmafdeling, en tweede in die regterarmafdeling. Alhoewel hy reeds toe vir die wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het, kon hy dit weens omstandighede nie bywoon nie.

Met vanjaar se SA’s het hy goeie verwagtinge gehad omdat hy die vorige jaar redelik goed gevaar het. Hy wen die linker- en regterarmafdeling, saam met ‘n uitnodiging na die IFA Wêreldkampioenskappe.

Ander oefeninge wat Munger fiks hou is fietsry, draf, ‘n paar sessies in die gimnasium en dan armdrukoefening. Die Lynix-klub, vriende, familie en sy afrigters, Phillip Nel en Danie Fourie staan bankvas agter hom en help hom met sy voorbereiding.

Hy bedank sy borge, Nelis Goosen, Supa Ginja, Koebil, Midas, Parts 4 Africa, Faan en Sarie Coetzee, Wickus en Zelna Coetzee, Johan en Bianca Zandberg, J&B Pompe, Havenga Droogskoonmakers en Suricat wat die toer moontlik maak.

Indien jy belangstel om betrokke te raak by dié sportsoort, kontak vir Anton per e-pos by antmunger@gmail.com.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button