Jayden se rugbydroom kry vlerke

Lezandré, Jayden se ma, het trots bygevoeg dat hy 'n suksesvolle sportiewe jong seun is wat elke geleentheid aanpak met volharding en deursettingsvermoë.

MOKOPANE – Jayden Enslin van Hoërskool Hans Strijdom is ‘n talentvolle, jong, sportiewe seun wat sy passie as rugbyspeler uitleef in die skool se o/15-span.

‘n Groot eer het hom te beurt geval toe hy onlangs gekies is om saam met die skool se o/16’s na Namibië te toer vanaf 29 September tot 8 Oktober.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir hierdie geleentheid wat oor my pad gekom het. Ek voel dit is ‘n baie groot eer vir my om as o/15-speler saam met die o/16’s te gaan toer.”

Jayden voeg by dat hy nog nooit die voorreg gehad het om na Namibië te reis nie en daarom wil hy graag hierdie geleentheid met albei hande aangryp.

“Ek sien uit na die goeie ervaring wat ek daar kan opdoen, en wil graag my hart uitspeel en van elke geleentheid ‘n sukses maak. Maar ek het egter die hulp van die gemeenskap nodig voordat ek in Windhoek, Swakopmund en Walvisbaai ‘n draai kan gaan maak.”

Die toer beloop R16 500 waarvan Jayden tot dusver al R6 000 ingesamel het wat reeds oorbetaal is aan die reisagent.

‘n Balans van R10 500 is dus nog uitstaande, wat voor 5 September betaal moet word.

“Ek wil graag vir almal wat tot dusver bygedra het, bedank. Dankie dat julle in my glo en dit vir my moontlik maak om dit waarvoor ek lief is en ‘n groot passie voor het, te kan nastreef. Elkeen se bydrae word opreg waardeer maak nie saak hoe groot of klein dit is nie – dit help om my rugbydroom te laat waar word.”

Lezandré, Jayden se ma, het trots bygevoeg dat hy ‘n suksesvolle sportiewe jong seun is wat elke geleentheid aanpak met volharding en deursettingsvermoë.

Indien jy kan help, skakel vir Lezandré by 076 322 6273. Hier volg die bankbesonderhede:

Jayden Enslin, Standard Bank, rekeningnommer 03 667 1487.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version