Ringkontakgevegskuns ‘nie vir straatbakleiers’, sê Willem

Willem Bouwer sê deur ringkontakgevegskuns leer 'n persoon selfrespek, respek vir die opposisie, hulp met selfversekerdheid en dat dit dus opbouend van aard is.

POLOKWANE – Reeds sedert Willem Bouwer (46) ‘n jong seun was, was hy ‘n kranige sportman.

Net nadat hy 40 geword het, word hy blootgestel aan ringkontakgevegskuns (RCFA) en vandag kyk hy nie terug nie.

“Ek het aanvanklik begin deelneem net om fiks te bly, maar het begin presteer en dit geniet. RCFA hou ses byeenkomste ‘n jaar en ek het vanjaar die geleentheid gekry om aan die provinsiale byeenkoms deel te neem.”

Na dié byeenkoms het hy vir Suid-Afrikaanse kleure gekwalifiseer en nou gaan hy kragte meet by die wêreldkampioenskappe in Augustus.

Daar is altesaam 45 deelnemers gekies vir dié span.

“RCFA is reeds in 1984 deur ‘n Suid-Afrikaner, Meester Joe Viljoen, geskep en bemeester. Dit is ‘n kombinasies van selfverdediging, boks, gevegskuns, wapenafrigting, intense fiksheid en stoeimetodes. Dan is daar ook ballet waar ons leer om soepel en buigsaam te wees. Dit help baie, veral wanneer ons skop.”

Willem sê deur ringkontakgevegskuns leer ‘n persoon selfrespek, respek vir die opposisie, hulp met selfversekerdheid en dat dit dus opbouend van aard is.

“My voorbereiding vir ‘n kompetisie is intens – ek werk aan my hart, gedagtes en siel. Dit behels ook kondisionering. Op my ouderdom is dit belangrik om gesond te wees en na jou gesondheid om te sien. Ek moet geestelik en fisiek gefokus bly. My uitdagings is minimaal aangesien die uitdagings kom wanneer ‘n mens ‘n beginner is. Baie mense val uit as gevolg van die intensiteit van die oefening, maar as jy vasbyt, pluk jy die vrugte. Hoe meer jy deelneem, hoe minder raak die uitdagings. Die maklikste deel vir my is om nie op te gee nie, asook die voorbereiding voor ‘n kompetisie.”

Willem verduidelik hoe RCFA se etiese reëls werk.

“Die etiek van ons sport is om dit wat ons leer, slegs by byeenkomste en in werklike gevalle van selfverdediging te gebruik. Hoe verder jy in die sport vorder, hoe meer leer jy om as individu jou liggaam as ‘n wapen te gebruik. Sou jy nie hierdie reëls nakom nie, sal jy nie meer as RCFA-lid geag word nie. Ons is nie straatbakleiers nie en en toon respek vir ons teenstaanders. Ons probeer konfrontasie vermy, en hou ons naam hoog om ‘n voorbeeld vir ander te stel.”

Willem se klub bied ook klasse vir kinders aan vanaf die ouderdom van sewe.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version