CrossFit se Conrad (22) palm podiumprys in

Conrad Winnertz bly 'n voorstaander van CrossFit en moedig almal aan om dit ten minste een keer self te probeer.

POLOKWANE- Conrad Winnertz (22) oftewel CC, ‘n voormalige leerder van PHS, het onlangs ‘n tweede plek by die Afrika CrossFit kampioenskappe in Johannesburg ingepalm uit sowat 4 000 manlike deelnemers van regoor Afrika.

Hy sê hy was absoluut oorbluf oor dié prestasie.

“Ek kan dit nou nog nie glo nie. Ek voel steeds soos net nog ‘n CrossFitter wat probeer om die beste weergawe van homself te skep.”

Sy onlangse deelname was maar die tweede keer dat hy aan dié kompetisie deelgeneem het.

Hy sê die Crossfitgogga het op 16 gebyt nadat sy pa dit voorgestel het.

Conrad Winnertz wys die krag in sy arms.

“Hy het gedink ek sou goed wees daarin, en ons het in daardie stadium gekyk na iets anders as rugby vanweë al die beserings.”

Teen die tyd dat hy 17 jaar oud was, het Conrad slegs op CrossFit gefokus.

Hy het sy skoolloopbaan by Hoërskool Pietersburg voltooi en is tans ‘n voltydse student by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus, en het verlede jaar ook in Saudi Arabië begin CrossFit afrig.

Hy beoog om sy graad in B.Sc menslike bewegingswetenskappe en sportafrigting hierdie jaar te voltooi.

Conrad meen die sleutel tot prestasie bly voorbereiding, veral voor ‘n groot kompetisie soos die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.

Conrad Winnertz in aksie by die Afrika CrossFit kampioenskappe.

“Ek oefen vyf dae per week met ‘n langer sessie op Saterdae. Op Sondae swem ek. Hierdie jaar was daar net tyd om te fokus op die belangrikste elemente.

“Ek het gehoop om so bietjie ekstra werk in te sit, maar dan sou ek beslis nie my vakke geslaag het nie,” skerts hy.

Conrad oefen CrossFit reg deur die jaar met een tot twee weke rustyd na ‘n kompetisie.

“In ‘n jaar se tyd is daar maar ‘n maand of twee waarin ek nie oefen nie. Dan hou ek vakansie en werk op die plaas. Ek geniet ook my familietyd.”

Hy bly ‘n voorstaander van CrossFit en moedig almal aan om dit ten minste een keer self te probeer.

“CrossFit leer ‘n mens baie van die lewe, asook hoe om verskillende persoonlikhede te werk. ‘n Mens leer uithou en aanhou, en jy maak nuwe vriende want jy sluit aan by ‘n CrossFit-familie.”

Hy sê CrossFit is ‘n sport vir jonk en oud.

“Afrigters het spesiale kursusse wat spesifiek ook op kinders, asook ouer mense gemik is.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version