Karateka Marcia nou volwaardige ‘Shihan’

Dit is 'n groot mylpaal vir enige karateka en Marcia Van Niekerk het hierdie onderskeiding ná 43 jaar se intensiewe en harde werk verwerf.

POLOKWANE – Plaaslike karateka Marcia van Niekerk het onlangs tot sewende dan in karate gegradeer en kan nou met trots die titel “Shihan” dra.

Die gradering het by die Universiteit van Witwatersrand onder streng toesig van 9de Dan Lionel Marinus en ander hooggeplaasde Shihans plaasgevind en het oor drie dae gestrek.

Dit is ‘n groot mylpaal vir enige karateka en Van Niekerk het hierdie onderskeiding ná 43 jaar se intensiewe en harde werk verwerf. Sy het ook in dié tydperk aan wêreldbyeenkomste in Switserland, Portugal, Duitsland, Japan, die VS en Suid-Afrika deelgeneem en vier wêreldkampioenskappe gewen en net soveel tweede plekke verower.

Die energieke Van Niekerk is die eienaar van Kimura Shukokai Karateklub en die fisieke en geestelike welstand van haar lede met ouderdomme van vyf tot 18 jaar is vir haar ‘n prioriteit het.

Sy streef daarna om haar kennis en ervaring aan haar studente oor te dra en ‘n hele paar van hulle het ook al tot wêreldkampioene gevorder.

“Ek wil graag ‘n verskil in hul lewens maak en dit het duidelik geword dat die studente se deelname aan karate ook ‘n positiewe uitwerking op hul skoolprestasies en ander aktiwiteite en sportsoorte het,” sê Van Niekerk en voeg by dat karate mens leer fokus en konsentreer. Dit kweek ook geduld, respek en matigheid, glo sy.

Van Niekerk leer haar karatekas dat karate nie daar is om mee aan te val nie. “Dit is ‘n selfverdedigingsmeganisme en as jy aangeval word, gebruik jy jou kundigheid en vernuf om jou aanvaller uit te skakel,” verduidelik sy. Haar raad teen boelies is om eerder eers weg te stap en die boelie te ignoreer want aandag is waarop hy floreer. “As hy terugkom of aanhou, weet jy wat om te doen om hom ‘n les te leer,” sê sy.

Van Niekerk beoefen ook al 32 jaar Ju-Jitsu en verduidelik dat karate bestaan uit skop en slaan terwyl Ju-Jitsu op gooi en breek fokus. “Shukokai karate wen groot veld en word in 22 lande wêreldwyd beoefen deur oud en jonk,” sê Van Niekerk.

“Deelname aan karate en die spangees wat by die klub gekweek word, dra jou deur die goeie en slegte dae van jou lewe en help jou om hoogtepunte en teleurstellings te hanteer,” sluit sy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version