Kruinies kraai koning in die liga

Kruinie Rugbyklub het verlede naweek skoonskip gemaak tydens die finale van die Limpopo Noord Streekliga.

POLOKWANE – Beide hulle spanne het die kortpad na Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane aangedurf om in dié gesogte kompetisie te speel.

Die tweedespan, wat as die Young Guns bekendstaan, het in die derdeligafinaal teen Nkowankowa Rugbyklub se eerstespan sake uitgespook.

Van die afskop af het dit gelyk of die jongmanne van Polokwane moeilik gestuit sou word, en so was dit bewys toe die eindfluitjie geblaas is.

Na talle drieë, doelskoppe en duikslae het hulle 31-7 geseëvier. Agsteman Pierre Coetzee is as speler van die wedstryd aangewys.

Afrigter Dawie Marais noem dat hulle nie vir Nkowankowa onderskat het nie. “Dit is ‘n goeie span en van hulle spelers het verlede jaar vir Letaba Rugbyklub se eerstespan gespeel. Hulle is ‘n span wat speel van jou foute af en daarom het ons die laaste week tydens oefening gesorg dat ons so min as moontlik foute maak. Die eerste helfte was uitdagend want ons het baie balbesit verloor en strafskoppe afgestaan. Toe ons later in die eerste helfte ons ritme gevind het, het ons begin punte aanteken.”

Dié oorwinning sou slegs die begin van ‘n suksesvolle rugbydag merk. Om 16:30 het die klub se eerstespan, aangevoer deur kaptein Juan Vos in die nommer 10 trui, hulle slag teen die tweedespan van Potties Rugbyklub gewys in die tweedeligafinaal.

Die manne in die swart en wit bloktruie het dit moeilik gevind om die manne in blou en wit weg van die doellyn te hou.

Kruinies se span het 83 punte opgeraap sonder antwoord van die tuisspan. Stut Heinrich Schoeman het ‘n man van die wedstryd vertoning ingesit en sodoende sy span gehelp om die wen in te palm.

“Hierdie wedstryd was vir ons baie belangrik om te wen, aangesien die enigste wedstryd wat ons seniorspan vanjaar verloor het, ons groepwedstryd teen Potties op ons tuisveld was. Ons het hard gewerk die week voor die finaal en ons wou oortuigend wen. Die span het goed saam gespeel en dit was ‘n 15-man poging gewees om die wen deur te trek.”

Die sege in die tweedeliga beteken dat Kruinie Rugbyklub se spanne volgende jaar in ‘n hoër liga sal deelneem.

“Ons sien uit na die ruskans en dan begin die harde werk weer. Volgende jaar is ons terug met spanne in die eerste-, tweede- en derdeliga,” sluit Marais af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version