Local sportSport

Limpopo nóú ‘n rugbyunie, maar voorwaardes geld

Die Limpopo Rugbyunie (Limru) is vanaf 29 April as 'n “ontwikkelingsunie” deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) goedgekeur.

POLOKWANE – Wat die benaming tot gevolg het, is dat daar nog nie volle onafhanklikheid is nie en dat sekere bepalings en voorwaardes geld. ‘n Ontwikkelingsunie is ‘n unie sonder stemreg by die algemene vergaderings van Saru, maar ‘n unie wat aan die Saru se amateurkompetisies kan deelneem, asook ‘n unie wat ‘n aktiewe klubrugbystelsel het.

Limpopo Bloubul amateurrugbybestuurder Attie Buitendag noem dat Limpopo as ‘n substreek steeds grondwetlik sal deelbly van die Bloubulle Rugbyunie (BBRU).

“Hierdie besluit deur Saru sal nou ‘n impak hê op beide die bestuurstrukture van die BBRU en Limru. Volgens Saru se instruksies behoort Limru sy eie grondwet te hê wat aan die Saru Grondwet onderwerp sal word,” voeg Buitendag by.

Limru sal wel sy eie president, wat die unie by Saru sal verteenwoordig, asook subkomitees om toesig te hou oor alle amateurrugbyaktiwiteite en -bedrywighede, moet kies. ‘n Voorlegging sal binnekort by die uniekomitee voorgelê word aangesien grondwetlike veranderings deur hierdie beheerliggaam goedgekeur en onderskryf moet word.

“Dit is duidelik dat hierdie veranderinge nie oornag geïmplementeer sal word nie en die uitvoerende komitee van die BBRU spreek hierdie stap-vir-stap aan om seker te maak dat die oorgang ordelik en toepaslik gedoen word,” verduidelik Buitendag en noem dat Saru vir Limru by die befondsingsmodel gaan insluit. Hierdie besonderhede sal eers op ‘n later stadium gedeel word.

Polokwane Observer het die president van BBRU, Willem Strauss, gevra oor wat dié veranderinge moontlik tot gevolg kan hê.

“Die formalisering van Limpopo as ‘n ontwikkelingsunie sal hopelik tot beter befondsing vir die unie se programme soos vrouerugby, amateursrugy en skeidsregters onder andere beteken. Dit beteken ook dat die Bulle nou twee amateurstreke sal hê en ons glo dit sal rugby in die provinsie nog meer laat groei,” verduidelik hy.

Strauss noem dat Limpopo al jare aan die vereistes vir só unie voldoen. “Alles is nou net geformaliseer. Dit is belangrik vir SA-rugby om in al nege politieke unies ‘n voetspoor te hê,” sluit hy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button