Local sportSport

‘Nyl Krokodil’ katrol nuwe rekord in

Haccum Hough se nuwe bynaam onder hengelaars is Die Nyl Krokodil.

POLOKWANE – Dít na hy op 24 Januarie ‘n rekord van 37 visse in agt ure gevang het teen 180.1kg by Die Nyl Biodiversity Dam in Mokopane.

As jong seun het Hough reeds gereeld saam met sy pa tyd langs die water spandeer en lyne natgemaak en vertel hy kom uit ‘n visvangfamilie en vang die laaste dekade al kompeterend vis. Sy kinders is ook deel van die junior liga hengelspan. Hy erken die resultate van die kompetisie het nog nie regtig ingesink nie.

“Ek het dit nie verwag nie. Die Nyl is die beste plek om vis te vang, jy gaan nie ‘n ander plek kry met soveel vis nie.”

In die eerste vier ure het Haccum 15 visse van 61.07kg ingekatrol. Na die breek het die 12- en 13-voet stokke wat op 110m en 75m gelê het, saam met die regte aas, Hough behoorlik besig gehou.

“Ek het toe 29 visse in vier ure uitgetrek. Die stokke het gelukkig langs mekaar gestaan.”

Hy is deel van die Labeo Hengelklub en geborg deur Legends Legacy Voer. Hough meen goeie voer is ‘n belangrike aspek van die kompetisie en Legends Legacy voldoen aan al die voer-vereistes. “Dit is sekerlik die beste voer waarmee ek nog visgevang het. Ek meng dit met ‘faith floaties’ wat ek self maak. Ons gooi elke vis wat ons vang weer terug.”

Hough vertel hy vang nie sommer meer vir die lekkerte vis nie, maar eerder in kompetisies soos ligas, Suid-Afrikaanse kampioenskappe en Pro Mania. Hy verkies om van die kant af vis te vang, maar sal ook met tye die diepsee aandurf. Hy is wel baie aktief in ander sportkodes soos knortjorre (Go-Karts), motorwedrenne (ovaalbaanresies), krieket, aksiekrieket, gholf en veerpyltjies.

“My raad aan ander hengelaars is om vertroue te hê in wat hulle gooi. As jy glo jy kan dit doen, sal jy suksesvol wees. Moet nie moed opgee nie, hou aan, dit sal beter raak.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button