Chanté Ferreira (21) leef haar hokkiedroom uit

Chanté Ferreira (21) het onlangs gehoor sy staan kans om vir die o/21 junior Wêreldbekerspan verkies te word.

POLOKWANE – Chanté Ferreira (21) was in gr. 5 toe sy die eerste keer Limpopo-kleure in netbal, atletiek en hokkie verwerf het.

Sy het haar skoolloopbaan by Oosskool begin waar die fondasie vir haar hokkietalent gelê is en word in gr. 5 vir die eerstespan gekies.

Haar hoërskoolloopbaan het by Hoërskool Pietersburg afgeskop, maar moes haar hokkieloopbaan by Hoërskool Menlopark voortsit nadat sy ‘n beurs aangebied is.

“Ek was bevoorreg om in Oosskool se eerstespan te wees en in gr. 12 word ek in Menlopark se eerstespan ingesluit. Gedurende die jaar word ons as die topspan in Suid-Afrika aangewys.”

Nadat sy haar skoolloopbaan in 2018 voltooi het, het sy besluit om B.Com ekonomie en internasionale handel aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomkampus te studeer.

“Ek wil baie graag ‘n goeie kwalifikasie agter my naam hê en nog aangaan met my hokkieloopbaan, om nog hoër hoogtes te bereik. Ek speel tans vir die universiteit se eerstespan.”

Chanté het onlangs gehoor sy is deel van die groep wat vir die o/21 junior Wêreldbekerspan verkies kan word.

“Die oomblik toe ek gehoor het ek is deel van die finale groep van 24 spelers, was dit ‘n oorweldigende gevoel wat ‘n mens nie maklik in woorde kan omskryf nie, maar ook ‘n gevoel van trots en ‘n bevestiging van my harde werk, lang ure se oefening en opoffering wat die moeite werd was.”

Die oefengroep gaan van 24 September tot 3 Oktober deelneem aan die senior interprovinsiale toernooi en dan aan ‘n reeks teen Indië van 18 tot 23 Oktober. Die reeks moet egter nog bevestig word.

Beide gaan plaasvind in die Kaap terwyl die junior Wêreldbeker in Potchefstroom vanaf 5 tot 16 Desember gehou sal word.

“Daar lê nou vir my baie harde werk voor. My grootste droom sal waar word as ek deel kan wees van die Wêreldbekerspan.

“Hokkie is my passie en ek is baie bevoorreg om alreeds soveel sukses te kon behaal en alle eer en lof gaan aan my Skepper vir my talente.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version