Armdruk-sussies wil saam met die sportsoort groei

Deané en Shanté Maritz het reeds in hulle eerste kompetisie hulle staal gewys.

POLOKWANE – Deané en Shanté Maritz is twee sussies wat onlangs armdruk as sportsoort opgeneem en reeds in hulle eerste kompetisies hul staal gewys het.

Shanté vertel sy het nie die sportsoort gekies nie, maar dat die sportsoort haar gekies het. Sy vertel sy het begin deelneem oor haar suster ‘n spanmaat nodig gehad het en tydens haar deelname het sy besef sy hou baie van die sportsoort.

“Meeste mense dink die sportsoort is ‘n kroeg-sport en dat slegs mans dit kan doen. Dit verg eintlik baie oefen om jouself in tegniek te kry wat werk en uitslae te bring,” vertel sy.

Shanté se raad aan ander is om elke oomblik te geniet en te luister na die afrigter en ook skeidsregter. Om fiks te bly vertel Shanté doen sy drie keer ‘n week crossfit en een keer ‘n week armdruk waar sy haar spoed en tegniek saam met haar hand beheer oefen.

Shanté en Deané Maritz is gereed om hulle alles te gee in armdruk.

Deané vertel sy het lank oorweeg om by die sportsoort betrokke te raak en nou dat die besluit eers gemaak is, kan sy nie wag om te sien hoe ver sy kan gaan met die sportsoort nie.

Sy vertel dat mense nie verstaan dat armdruk baie tegnies is nie en sy dink dis hoekom baie mense nie wil deelneem nie want hulle is bang vir beserings.

Vir haar is die sport maklik as jy gereeld oefen en die ondersteuning van haar vriende en familie help ook.

Sy beskryf haarself as iemand met ‘n sterk persoonlikheid wat van uitdagings hou.

Haar raad aan mense wat die sportsoort wil opneem: “Jy gaan nie net kan instap nie en goed presteer nie. Jy gaan moet insit en oefen, moenie bang wees en die sport oordeel voordat jy dit self probeer het nie,” sê Deané.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version