Local sportSport

Skuts skiet in die kol as Willem hul afrig

Sy liefde vir skiet het kleintyd begin en vandag hou hy trots sy trofee vas vir 15 jaar se baandiens by Suid-Afrikaanse skoleskietkompetisies.

LIMPOPO – Willem Klemp is streng en veiligheid en dissipline kom eerste wanneer hy die skuts van die Hoërskool Piet Potgieter se luggeweerskietspan touwys maak.
Dit is nou 16 jaar wat hy hier sonder enige vergoeding jong skuts namens die Suid-Afrikanse Nasionale Skole Skietunie (SANSSU) oplei en so ook sy passie vir dié sportsoort uitoefen.
Hy vertel skiet is ‘n duur sportsoort en daarom is daar nie so baie skuts nie.
Sy liefde vir skiet het in Kroonstad in die Vrystaat begin en hy het op 16-jarige ouderdom met groot trots Springbokkleure verwerf.
Nadat hy aan die Hoër Tegniese Skool De Wet Nel matrikuleer, was hy eers weermag toe vir twee jaar.
Daar het hy vier skerpskut balkies verwerf.
Hy is ook tans’n Limpopo tegniesebeampte.
“My pa het my as ‘n jong seun leer skiet. Hy was self ‘n Springbokskut. Daardie jare het ons in die skool met .22 gewere geskiet, maar later het die wette verander en slegs luggewere is toegelaat in skole. Na weermag het ek begin wild jag en ek geniet dit vandag nog.”
Willem het in 1997 na Mokopane verhuis waar hy tans ‘n gemengde boerdery bedryf.
In 2002 is daar besluit om luggeweerskiet as sport by HPP aan te bied en hy het dadelik sy hulp aangebied en begin as hulpafrigter waarna hy later as afrigter oorgevat het.
Vir hom is veiligheid die belangrikste. “Wanneer ‘n skut by my begin, is dit belangrik om dissipline toe te pas en reëls te kan volg.
“Die skuts leer ook die belangrikheid van goeie oogkoordinasie en konsentrasie. Ek is ‘n baie streng afrigter, daarom was daar nog nooit ‘n skietongeluk in die 16 jaar wat ek afrig nie.
“Daar is reëls wat gevolg moet word wanneer daar met ‘n wapen gewerk word en geen skut mag ‘n geweer dra soos hy wil nie.
“Skuts teken ook ‘n etiese kode wat uitstip dat hulle geen voëls mag skiet solank as wat hulle by my afrigting ontvang nie. Luggewere is baie gevaarliker as wat dit voorkom en sommiges kan selfs ‘n mens of bok doodskiet. Gelukkig laat ons nie daardie gewere hier toe nie.”
Willem meen dat sy skietspan in 2015 die sterkste groep was wat hy al afgerig het en dat nege van sy skuts deur die jare van afrigting SANSSU kleure verwerf het.”
Veiligheid word egter nie net by sy skuts toegepas nie, maar ook by sy huis.
“My vrou, seun en twee meisiekinders weet hoe om te skiet. Ek dink dit is baie belangrik om te weet hoe om jouself te verdedig.”
Benewens sy skietpassie spog hy met sy boerdery en is hy dankbaar dat sy gesondheid hom nog toelaat om sy passies uit te leef.
Hy is ook dankbaar vir sy vrou se ondersteuning deur die jare.
“Van die skuts wie ek afgerig het, kom kuier gereeld vir my op die plaas jag soms saam my. Dit is vir my lekker om te sien dat ek iets by hulle nagelaat het. Ek geniet dit wat ek doen.”
lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button