Potties se pro-gholfspeler kom deel weer sy kennis

Die professionele gholfspeler, Strydom van Dyk, is na sewe jaar terug op die Kameeldoring gholfbaan waar hy as jong seun geleer het om gholf te speel.

MOKOPANE -Strydom sê sy liefde vir gholf het hy van sy pa, Hannes van Dyk, gekry. “My pa het die spel aan my bekendgestel toe ek 12 jaar oud was en sedertdien is dit al wat ek wil doen. Ek put soveel genot uit gholf en ek probeer om myself elke keer te verbeter. ‘n Mens is nooit volleerd of het al die vaardighede onder die knie nie.”

Strydom het sy skoolloopbaan by Laerskool Krugerpark begin en in 2010 aan die Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer. “Na skool het ek ‘n gap jaar gevat en aan my gholf gewerk om ‘n toerspeler te word.

“Ek het intussen by verskeie gholfklubs as afrigter gewerk. Ek het deur die Koro Creek Gholfklub in Modimolle my PGA vakleerlingskap studeer en later ‘n beter pos by Hermanus Gholfklub aanvaar waar ek vir vyf jaar as afrigter en Pro Shop Bestuurder gewerk het. My hart het egter met ‘n punt terug na die Bosveld getrek, na my familie en mense. Toe die geleentheid hom voorlê om by die Kameeldoring Gholfklub as afrigter te werk, het ek dit met albei hande aangegryp.”

Strydom vertel sy rolmodel is Ernie Els. “Ernie het nog altyd die sport vir my so maklik laat lyk. Ondanks sy sukses, bly hy nederig.

“Ek wil graag hê meer mense moet gholf begin speel, want dit bied so baie. Jy speel vir jouself en moet dus self besluit hoe om jou vaardighede te verbeter. Dit is ook ‘n sportsoort waarin jy gehaltetyd saam met vriende kan hê, of hulle gholf speel of nie.

“Die kameraadskap tussen gholfspelers is inspirerend en die kuiers saam met familie by die gholfklub is altyd gesellig.”

Strydom sê hy wil sy liefde vir die sportsoort en vaardighede oordra aan ander wat graag wil leer om gholf te speel. Hy bied lesse vir jonk en oud op Dinsdae en Donderdae en gaan eenmaal ‘n maand ‘n juniorkliniek op Saterdae aanbied.

Strydom van Dyk saam met van die gholfspelers wat meer by hom kom leer het.

Kontak hom by 084 850 3479.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version