Local sportSport

Kirsten se bloed is groen en goud

Kirsten Eastes, oud-Mokopane inwoner en matrikulant van Stanford Lake College, studeer tans argitektuur aan die Universiteit van Pretoria en is onlangs gekies as stut tot die Springbok studente vroue-sewesrugbyspan.

MOKOPANE – Kirsten (18) sê: “Ek het vir Tuks studente vroue-sewesrugbyspan gespeel by die Universiteit Sport van Suid-Afrika (USSA) waar ek gekies was vir die USSA ‘dreamteam’. Na ‘n oefenkamp is die finale Springbok studentespan aangewys.

“Ek kon ongelukkig nie gaan nie omdat ek ‘n internasionale toer in Frankryk saam met Tuks moes bywoon. Die afrigter het my nogtans gekies op grond van my vorige wedstryde en video’s wat hy van my gesien het waar ek speel.

“Ek het vanaf 10-14 Julie in Namibië saam met die Springbok studentespan aan die 2018 FISU World University Championships deelgeneem.”

Sy vertel haar familie is lief vir dié sportsoort. Toe sy vanjaar uitvind dat haar universiteit ‘n vroue sewesspan het, het sy dadelik besluit om deel te neem.

Sy het op hoërskool aan talle sportsoorte deelgeneem en in gr. 10 reeds vir die eerstehokkie- en netbalspanne gespeel.

Bergfiets was haar gunsteling sportsoort op skool en sy was in gr. 8-11 vir Limpopospan gekies. Sy was as die beste in haar kategorie tydens die finaal van die nasionale interskole Spur Bergfietsreeks in haar gr. 9 jaar aangewys.

“In die begin was my ouers maar baie skepties oor die sewesrugby. Toe hulle agterkom watter goeie vriendinne ek maak en dat ek aan toernooie oorsee kan deelneem het hulle my meer ondersteun. My pa is my grootste aanhanger en motiveer my om altyd my beste te gee.”

Sy sê haar toekomsplanne is onvoorspelbaar. “My eerste prioriteit is om my graad te kry. Ek sal graag vorentoe ‘n kans wou hê om vir die Nasionale Vroue Springbokspan te kan speel. Ek oefen tans hard vir ons laaste twee oorsese toernooie. Dit is belangrik om beter, vinniger en sterker te wees.”

Sy kyk ook op na Australiaanse speler, Charlotte Caslick en haar Tuks sewesrugby-spankaptein, Libbie Janse van Rensburg. “Ons is ‘n goeie span en ek sê dankie vir al die seniors in die span wat so hard oefen om bo uit te kom.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button