HTS sporttalent in goeie hande

Danie Roux is 'n bekende gesig en naam op die skoolsportvelde.

POLOKWANE – Danie begin op 1 Augustus weer by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé werk, waar hy jare lank onderwyser was.

Hierdie keer keer hy terug as atletiekkonsultant en raadgewer. “Ons gaan vanaf Augustus al die leerders toets om hul sporttalent te identifiseer en daarna gaan ons met atletiekafrigting in die voorseisoen begin by leerders wat nie by ander sportsoorte betrokke is nie.”

“Atletiek is ‘n individuele sportsoort wat geweldige selfdissipline by ‘n sportman kweek en die stophorlosie en maatband herinner jou deurentyd aan jou toewyding en werksywer”

Hy vertel dat spesifieke doelwitte vir die korttermyn asook die langtermyn by die atlete gestel moet word. Atlete moet daarna streef om op nasionale vlak deel te neem.

“Ek sal betrokke wees by die naellope en middelafstande waarin ek tans baie navorsing doen. Ek hoop om ‘n bydrae te lewer dat Tom Naudé weer soos in 2011 die seunsafdeling op interhoër wen. Daar was daardie jaar agt atlete wat gekwalifiseer het vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.”

Danie het reeds in 1986 by Tom Naudé aangesluit en was van 2009 tot 2013 in die sportkantoor. Daarna het sy paadjie na Curro Heuwelkruin gelei waar hy tot 2017 was.

Deur die jare het hy baie prestasies met sy atlete gehad. Hy het 53 atlete na Suid-Afrikaanse Kampioenskappe geneem en hulle het 17 medaljes gewen.

“Ek self het ook presteer op die atletiekveld en was wenner van ‘n goue medalje op die Suid-Afrikaanse Meesters atletiekkampioenskappe in 1985 in die vyfkamp. In 1996 ontvang ek die Honoris Causa toekenning van die SA Skole Verenigning vir my bydrae tot atletiek.”

“Atletiek is die sportsoort wat deur die meeste leerders in Suid-Afrika beoefen word. Atlete van grootskole neem deel teen atlete van kleinskole en dit maak dinge moeilik.” Danie beoog om verskillende toetse te doen met die kinders en vertel dat hy punte moet toeken wat vir die leerder se rapport tel.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version