Atleet spring hoog na haar drome

Atletiek is iets waarin Marcelle de Jager uitblink, veral as dit by verspring kom.

POLOKWANE – Die kranige atleet het tydens die onlangse Confederation of Africa Athletics (CAA) Suidstreek o/18 en o/20 kampioenskappe besonder goed gevaar en het met trots haar skool en die stad se naam hoog gehou.

Marcelle is ‘n leerder van Hoërskool Pietersburg en het as individu vir die kompetisie ingeskryf en het teen topvlak-atlete deelgeneem om ‘n brons medalje huistoe te bring.

Lees ook: A girl to watch on the cricket pitch

Bo en behalwe die medalje wat sy ingepalm het, het Marcelle ook baie ondervinding gekry deur op hierdie hoëvlak kompetisies deel te neem sodat sy kan bepaal hoe hard sy moet oefen om vir die komende atletiekseisoen voor te berei.

Sy het vroeër laasjaar gedurende die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe in Durban ‘n goue medalje verower toe sy ‘n afstand van 5,53 m in die o/17 ouderdomsklas gespring het.

Marcelle vertel dat sy sedert gr. 3 reeds aan verspring deelneem. Sy het al verskeie kere goud gewen maar vir haar beteken die goud by die SA kampioenskap die meeste omdat dit haar eerste medalje op nasionale vlak was.

Marcelle de Jager in aksie in die verspringput.

“My raad aan die atlete wie dit vir die eerste keer doen is om altyd te onthou dat hulle dot moet doen omdat hulle daarvan hou en dit geniet. Hulle moet nie gestres of gedruk voel om te presteer nie want as jy glo dat dit wat jy doen tot die beste van jou vermoë is en jy jou beste gee omdat jy dit geniet, sal die res volg,” vertel sy.

Ander sportsoorte waaraan sy deelneem is netbal en landloop en sy vertel met ‘n breë glimlag dat haar netbalspanmaats vir haar soos familie is.

Voor die atletiekseisoen oefen sy drie gewoonlik drie dae in die oggende en vyf dae van die week in die middae. Gedurende die atletiekseisoen oefen sy net in die middae.

“Ek doen gewoonlik maar meeste van my huiswerk by die skool klaar en leer dan in die tye wat ek nie oefen. Ek probeer altyd dat my akademie prioriteit geniet maar in die week voor die SA’s voel ek atletiek is somtyds belangriker vir my. In my af-seisoen is daar gelukkig meer tyd vir akademie,” vertel sy.

“Ek beskou myself nie as ‘goed’ in my sportsoortkeuse nie, want ek dink enige iemand kan sukses behaal as hulle net glo en hul drome tot aksie bring deur harde werk en deursettingsvermoë en vertroue in jouself. Daar is so baie mense wat dink hulle is nie ‘goed’ in atletiek, of in enige sport nie, maar as hul begin oefen en deurdruk kan hul ook sukses vir hulself behaal.”

Oor haar drome in dié sport vertel sy: “Ek dink enige atleet se droom is om vir die Suid-Afrikaanse span gekies te word en om die groen en goud by die Olimpiese spele te dra en ons land te verteenwoordig in die sport wat ons lief het. Ek sal graag oor die langtermyn aan die Olimpiese spele met my verspring wil deelneem. Vir die korttermyn fokus sal ek graag volgende jaar weer by die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe ‘n medalje wil inpalm. Ek sal ook graag vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan gekies wil word. Ek sal baie graag wil aangaan met atletiek, ek kan nie ‘n lewe sonder dit indink nie.”

Marcelle is passievol oor die lewe en altyd lus vir ‘n nuwe uitdaging. “Ek hou daarvan om saam met my vriende te kuier; ek is hardwerkend en doelgerig en bly gefokus op dit wat belangrik is.”

Haar sportheld is Wayne van Niekerk. “Ek dink die grootste ding wat my gemotiveerd hou is die doelwitte wat ek vir myself stel, want sonder doelwitte is daar geen doel in die sport nie en geen doel in die lewe vir my nie.”

Haar atletiekseisoen is nog nie op sy rug nie, want daar lê nog een kompetisie vir haar voor. “Ek het die geleentheid gekry om saam met ‘n gekose toergroep na Europa te reis om myself daar te gaan verbeter en meer oor die sport te leer. Ons gaan aan drie byeenkomste deelneem en gaan ook professionele afrigting kry. Ons gaan ook twee van die bekende Diamond League byeenkomste gaan kyk en ek sien baie uit daarna.”

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version