Jong atleet mik vir Europese sterre

Rinelda van der Linde is nie 'n leerder wat jy sal sien verskoning maak as dit by haar sport kom nie en dus is dit ook geen wonder dat sy vir die 'Split Second' atletiektoer in Europa gekies is nie.

POLOKWANE – Dié toer vind in Julie vanjaar plaas en van die wêreld se beste jong atlete asook afrigters gaan hieraan deelneem en tegnieke uitruil om atletiek te bevorder.

“Van kindsbeen af was sport ‘n passie vir my nadat ek gesien het hoe ander mense sportsoorte beoefen.

“Dit het iets in my aangewakker,” verklap Rinelda aan Review.

Sy is een van net ‘n handvol atlete wat vanuit die stad en Limpopo gekies is om die toer mee te maak saam met haar afrigter, Antonette Jordaan, wat self nog aan gewigstoot by verskeie kompetisies deelneem.

Haar jongste toekennings is goud en brons wat sy by die Gauteng Senior Kampioenskap ingepalm het.

“Antonette is my rolmodel omdat sy self weet hoe moeilik dit is om deur moeilike tye steeds op jou sportsoort gefokus te bly.

“Daarby is sy ook ‘n kankeroorwinnaar en het nie toegelaat dat dié siekte haar liefde vir sport, of haar as persoon, aftakel nie. Dit is ook hoekom sy juis vir my so ‘n besonderse inspirasie is,” vertel Rinelda.

Rinelda neem reeds vyf jaar aan diskus en gewigstoot deel en al is sy slegs 14 jaar oud, spog sy reeds met ‘n string titels agter haar naam in beide items.

By die Marius Lengton byeenkoms was sy deur haar afrigter genader wat haar van die geleentheid om Europa toe te gaan vertel het.

Rinelda oefen daagliks, behalwe Vrydae, vir ‘n uur en wissel tussen spoed- en kragoefening.

“Diskus is vir my die lekkerste om aan deel te neem want dit voel gemakliker,” sê sy alhoewel sy beide sportsoorte vir beide seuns en meisies aanbeveel.

Sy het verlede jaar, afgesien van ‘n besering aan haar skouer, die titel vir beste meisiesatleet gedurende die Marius Lengton byeenkoms, asook by haar skool, Hoërskool Pietersburg, opgeraap.

“My raad aan leerders wat hul sportvermoë betwyfel is om in hulself te glo. Moet nooi opgee nie.”

Rinelda sê sy is baie dankbaar vir haar ouers en broer se ondersteuning asook haar afrigter se volgehoue aanmoediging.

Sy sal graag internasionaal aan dié sportsoorte na skool wil deelneem en droom daarvan om ‘n Olimpiese atleet te word.

Antonette vertel dat Rinelda slegs een van drie atlete is wat sy in 20 jaar afrig wat Springbokpotensiaal toon.

“Sy is een van die min atlete wat haar eie potensiaal en droom raaksien en dít maak my as afrigter baie trots om haar op die regte pad te lei. Jy kan nie vir beter vra nie,” vertel Antonette.

Rinelda se geheim om gemotiveerd te bly op ‘n afdag is om te weet almal het af dae en haarself moed in te praat dat sy volgende keer beter sal doen.

Rinelda se ma, Riette, sê sy is baie trots op haar dogter en het haar dank teenoor Antonette uitgespreek wat haar bystaan.

“My dogter het die geleentheid van ‘n leeftyd om haarself te verbeter in die sportsoort waarvoor sy so lief is.

“Ongelukkig is die koste van die toer baie duur, dit is hoekom ek vra vir borge om haar te help om haar droom te bewaarheid.

“Ons self as gesin probeer om die geld bymekaar te kry maar ons het nog nie alles nie.

“Ek wil haar droom sien waar word en ek glo dat met ander se hulp en haar Godgegewe talent sy as atleet sal uitblink.”

Om Rinelda te help borg, kontak haar ma, Riette op 082 924 7363.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version