‘Rookie’ roer op die ovaalbaan

Polokwane Oval Raceway se Rookie van die Jaar, Andri Cronjé, beplan nie net om die ovaalbaan se teer aan die brand te ry nie, maar om ‘n Nascar-renjaer te word of selfs met ‘n oval sprint-motor om die baan te blits.

POLOKWANE – Die ovaalbaan wedrenklub se sekretaris, Wendy Nourse, sê dié jong meisie met haar uitmuntende bestuursvernuf is beslis ‘n renjaer om dop te hou.

Andri is ‘n leerder van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé waar sy ‘n rigting in eletries volg.

Die renjaergogga het haar al ‘n geruime tyd begin knaag en sy en haar familie het gereeld ovaalbaanrenne gaan kyk omdat haar pa, André, ‘n motorwerktuigkunde van beroep, help om hul neef Jean Cronjé se ovaalbaanrenmotor te versien.

Andri Cronjé blits om die baan in haar rooi en geel Volkswagen Golf Merk1 waarmee sy vanjaar op Polokwane Oval Raceway se baan die Rookie van die Jaar-titel verower het.

“My wedrenmotor was eers gereed vir my debuut in die derde byeenkoms wat in Maart gehou is. Die dag voor die wedren het my senuwee erg geterg, maar my ma, Natashia, het my gerus gestel,” vertel Andri.

Sy sê toe sy egter eers agter die stuur inskuif vir haar eerste oefenrondtes voor die wedren, het sy dadelik tuis gevoel en geweet dít is wat sy graag wil doen.

Andri se wedrenmotor is ‘n Volkswagen Golf Merk 1, oftewel Citi Golf, wat deur ‘n 1600 Volkswagen engine aangedryf word. Tussen haar pa, André, en broer JP word haar renmotor versien.

Sy vertel dat afgesien van die paar stampe wat maar verwag kan word tydens wedrenne wanneer die renjaers stamp en stoot vir posisies, het sy andersins haar neus skoon gehou.

Vir haar ma Natashia is haar wedrendeelnames ‘n senutergende en emosionele ervaring. Haar ma sê sy sorg maar dat sy ‘n kalmeerpilletjie gereed het wanner sy haar meisiekind langs die baan aanmoedig.

“My man en my seun is albei gek na motorsport. Ek is baie trots op my meisiekind se prestasies, maar die feit staan sy bly my enigste meisiekind en daarom is ek gesteld op haar welstand,” sê Natashia.

Andri sê haar pa gee haar gereeld waardevolle raad en sy het groot respek vir Polokwane Raceway se Voorsitter, Heath Bent. Sy sê Bent, wie ‘n ervare ovaalbaanrenjaer is, gee graag raad en help waar dit moontlik is.

“Ek weet motorsport is baie duur om aan deel te neem, daarom is dit nie maklik om ‘n balans te hou om kompeterend sowel as konserwatief te ry nie. Aan die een kant wil jy jaag om te wen, maar terselfdertyd moet jy so ry dat daar so min as moontlik skade is om te herstel na ‘n wedren want dit kos baie geld as jou renmotor beskadig word,” sê Andri.

Die 16-jarige renjaer sê sy is vol hoop na haar sukses vanjaar om ‘n paar borge te kry wat haar sal ondersteun vir volgende jaar se kampioenskap. Sy sê haar pa is tans haar grootste borgskap en sy is baie dankbaar vir sy ondersteuning om haar passie en droom te kan uitleef.

Mense of besigheidsondernemings wie graag vir Andri wil ondersteun met borge kan haar pa, André Cronjé, by 082 563 3102 kontak.

roelof@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version