Sias Willemse ”n krieketspeler om dop te hou’

Dié kranige o/19-krieketspeler van die Limpopo Impala Krieketklub (LIC) neem vanjaar vir die tweede opeenvolgende keer aan die Khaya Majola Krieketweek deel.

POLOKWANE – Hierdie toernooi word vanaf Sondag, 17 tot Donderdag, 21 Desember in Johannesburg beslis.

Sias is ‘n 18-jarige leerder van Hoërskool Pietersburg en speel ook gereeld vir die Eagles Krieketklub in die Limpopo Impala Krieket-Unie se amateurliga.

Lees ook: Pieties palm Limpopokleure in met krieketspel

Sy afrigters meen dit is tot sy voordeel dat hy met ervaring aan vanjaar se krieketweektoernooi gaan deelneem want hy weet wat om te verwag asook die vlak van kompetisie waarteen hy gaan meeding.

Hierdie linkerhandse-kolwer, wat ook ‘n behendige regterhandse draaibouler is, het as ‘n 11-jarige by nasionale krieketweektoernooie sy krieketspore gelaat.

Sias sê hy het gedurende verlede jaar se Khaya Majola toernooi, veral met die kolf, gesukkel om aan die gang te kom maar het wel in die laaste twee wedstryde teen Mpumalanga en Suidwes Distrik se spanne tellings van 30 en 34 lopies onderskeidelik aangeteken.

Sias Willemse is ‘n knap regterhandse draaibouler. Foto: Verskaf

“My Suid-Afrikaanse krieketheld is Faf du Plessis en internasionaal is Virat Kohli my gunsteling, bloot omdat hulle as kapteine die voorbeeld stel, afgesien dat hulle ongelooflike spelers is,” sê hy.

Sias sê sy pa, Hannes, is sy nie-spelende krieketheld vanweë sy ondersteuning en die feit dat sy pa dit vir hom moontlik maak om sy fokus op krieket te kan toespits.

Sias in aksie. Foto: verskaf

“Ek dink om bo uit te kom in krieket vir ‘n loopbaan en om jouself dan as ‘n krieketheld te sien kan slegs deur baie harde werk en toewyding bereik word,” sê hy.

Sias sê hy het slegs hoë verwagtinge vir homself in vanjaar se Khaya Majola Krieketweek.

“Ek wil graag mik om met die kolf ‘n hondertal aan te teken. Dit sal uitstekend wees as ek met my boulwerk vyf paaltjies in ‘n wedstryd kan laat kantel. Ek is vol selfvertroue wat my boulwerk aanbetref, my persoonlike gemiddelde boulsyfer sover vanjaar is 21 paaltjies teen ‘n gemiddeld van ses boulbeurte,” sê hy trots.

‘n Bouler se gemiddeld word bereken op die hoeveelheid balle wat dit neem om elke paaltjie te neem.

‘n Laer gemiddeld is dus meer voordelig aangesien die bouler meer paaltjies (kolwers) uitboul teen so min as moontlik balle of aflewerings.

roelof@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version