Spelers maak hul merk in Vrystaat

Twee oud-leerders van Mokopane het nie hulle rugbystewels na skool opgehang nie, maar blink nou in die Vrystaat op die rugbyveld uit.

MOKOPANE – Marco Mason, oud-leerder van Hoërskool Piet Potgieter en Willem Barnard, oud-leerder van die CVO-Skool Potgietersrus, speel albei vir die Shimlas wat verlede naweek uitgedraf het in die Varsity sewestoernooi wat in Durban gehou is.

Marco wat die nommer 10 trui as losskakel dra, is ook kaptein van die span, en het drie drieë in die toernooi gedruk. Willem het as haker ook gedurende die toernooi agter die doellyn gekuier en een van sy drieë het die skare in vervoering gehad. Die Shimlas het tot die eindstryd gevorder, maar moes toe die aftog blaas teen die Universiteit van Johannesburg.
Adri Barnard, trotse ma van Willem, vertel hoe hy teen die span van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth ‘n pragdrie gaan druk het.
“Willem het die bal opgeraap en sowat 80 m deur die verdediging van die Madibaz gebreek. Dié drie het gemaak dat hulle hoër op die ranglys kon skuif.”
Dit is duidelik dat dié twee veelsydige spelers besig is om hulle merk op die land se rugbyvelde te maak.Marco het al vir die Cheetahs in ‘n Curriebekerwedstryd uitgedraf en Willem speel ook vir die Kovsies se Irwasspan en het al vir die Cheetahs se sewesspan gespeel.
Willem het in 2013 aan die CVO-Skool gematrikuleer en sopas sy derde jaar in BA landbou voltooi. Marco wat in 2010 aan HPP gematrikuleer het, studeer menslike bewegingskunde. Hy is besig met sy honneursgraad in sportwetenskap.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version