Local sportSport

Lenize Potgieter staan haar skoene vol, letterlik

Met 'n lengte van 1,8 m is sy die ideale kandidaat vir netbal en sy het haarself al telkemale op die baan bewys, op eie bodem en oorsee.

POLOKWANE – Die netbalbane by Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) is na hierdie oud-Osie met ‘n hart van goud vernoem.

“Ek het vanjaar in Nieu-Seeland aan die ANZ Premier League deelgeneem en het Julie weer terug na Suid-Afrika gekom. Ek sien egter baie uit daarna om in Januarie na Nieu-Seeland terug te keer want die netbal daar is baie lekker en meer kompeterend.

“Dit is ook nie vir my so vreemd daar in die verre nie, ek behoort daar aan ‘n Afrikaanse kerk en Bybelstudiegroep. Die land is mooi, skoon en veilig.”

Verlede jaar het Lenize in Engeland vir Team Bath Club netbal gespeel.

“Ek was vyf maande daar en dit was glad nie lekker nie. Dit is nie my tipe mense nie en die weer was aaklig. Ons het derde in die kompetisie geëindig. Terug in Suid-Afrika het ek in die laaste drie rondes van die Brutal Fruit Netball Premier League vir die Gauteng Jaguars gespeel. Ons het ‘n algehele tweede plek in dié toernooi opgeraap.”

Lenize Potgieter leer die o/11-netbalspelers van Oosskool ‘n paar nuwe tegnieke.

Sy het ook vir die nasionale netbalspan, die Proteas, in die Diamond Challenge-toetsreeks gespeel waar die span teen Wallis gewen het.

“Dit is nou my af seisoen en ek gebruik hierdie tyd om by my ouerhuis te kuier. Tussendeur biet ek ook individuele skiet-sessies aan waar ek vir jong netbalspelers ‘n paar tegnieke leer. Ek help ook die o/11-span van Oosskool met hul basiese tegnieke want dit is belangrik vir spelers om van jongs af te leer wat die regte reëls en tegnieke is. Ek geniet dit verskriklik baie om spelers daarmee te help.”

Lenize het ‘n sportwetenskapgraad en is ook ‘n gekwalifiseerde netbalafrigter, persoonlike afrigter en sportbestuurder.

“My werk in Nieu-Seeland behels netbalafrigting of promosiewerk. Daarby reis ek ook baie rond wat my die geleentheid bied om die land en mense beter te leer ken.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button