Local sportSport

Rugbyafrigter, onderwyser het rugby in sy bloed

Sy liefde vir sport en veral vir rugby lê Renier Labuschagne (25) na aan die hart.

MOKOPANE – Voeg sommer daarby ‘n loopbaan in die onderwys waar hy kans kry om jong opkomende sporttalent raak te sien en te ontwikkel.

Labuschagne is welbekend as die haker en voorsitter van die Potties Rugbyspan, skolerugbyafrigter en ook onderwyser in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) by Hoërskool Piet Potgieter (HPP). Dit is hier waar hy nou vir die vyfde jaar voor in die klas staan.

Labuschagne is in Krugersdorp gebore en het op Mokopane grootgeword. Hy het in 2009 aan HPP gematrikuleer en sy liefde vir rugby en atletiek was toe al daar. “Ek het nooit regtig presteer op die veld nie. Ek het diskus en gewigstoot gedoen om die span vol te kry,” lag hy.

Labuschagne sê hy was gewoonlik vir die B-span gekies waar hy as stut op die rugbyveld uitgedraf het. Hy was in sy matriekjaar in ‘n motorongeluk waarna die dokter laat weet het hy sal nooit weer in dié posisie kan speel nie.

Na matriek het hy die besigheid Pro-TV geërf en tussendeur by HPP rugby afgerig en skoolgehou.

“Ek het die besigheid opgegee, want ek het nie regtig genoeg tyd gehad vir albei nie. Mense dink skoolgee is ‘n halfdagpos. Dit is glad nie die geval nie.”

Hy wou graag ingenieurswese studeer, maar het by HPP aangebly en begin om homself te bekwaam in onderwys deur aan Unisa te studeer.”Ek is baie dankbaar teenoor HPP. Hulle kyk mooi na ons onderwysers en bied genoeg geleenthede vir groei.”

Labuschagne vertel dat hy sy onderwysloopbaan geniet, maar sien toesighou in eksamentyd en vraestelle merk as die grootste uitdaging. “Dit verg baie tyd om vraestelle te merk”.

Hy het al talle spanne op HPP se velde afgerig onder meer die o/16-span vandat hulle as o/14’s saam begin speel het. Dié span het drie keer die Limpopokampioenskappe gewen en twee keer die Beeldtrofee, wat nou as die Virsekerbeker bekend staan, gelig.

Labuschagne rig ook vanjaar vir die tweede keer die sewesspan af wat in Dubai gaan toer.

Hy is ook ‘n keurder vir Limpopo o/16-spelers en het self vir die Vodacom Cup, Plattelandspan, Limpopo Amateurspan en Limpopo sewesspan in die verlede uitgedraf.

“Wat ek die meeste van rugby-afrig geniet is die band wat geskep word tussen die seuns en afrigters. Dit leer hulle dissipline en stiptelikheid wat nie noodwendig op die skoolbanke geleer kan word nie.”

Om self rugby te speel is vir hom ‘n manier om sy liggaam gesond te hou en dat dit vir hom iets is om te doen eerder as by ‘n drinkplek te sit soos talle jongmense.

Labuschagne se gunsteling rugbyspan is die Blou Bulle en die oud-Springbok Os du Randt is ‘n speler na wie hy opgekyk het. “Ek is nie iemand wat sommer gunstelinge kies nie en het ook nie ‘n mentor nie.

Ek vat maar inspirasie van wie dit af kom, of dit nou ‘n leerder of mede-kollega is.” Kol. 3: 23 bly hom egter altyd by: Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button