Local sportSport

Francois wys stoeivernuf in Athene

Top stoeier, Francois Rossouw van Hoërskool Hans Strijdom het vyfde plek in die 63 kg afdeling verower tydens die Kadette-wêreldstoeikampioenskappe

MOKOPANE – Top stoeier, Francois Rossouw van Hoërskool Hans Strijdom het onlangs sy stoeivernuf in Athene, Griekeland tydens die Kadette-wêreldstoeikampioenskappe gewys toe hy ‘n spoggerige vyfde plek in die 63 kg afdeling verower het.

Francois (17) sê om in Griekeland te kon deelneem was ‘n belewenis en ‘n voorreg. Hy het drie gevegte gestoei waarvan hy sy opponent van Bulgarye geklop het.

Hy moes egter die knie buig teen die stoeiers van Japan en Amerika. Altesaam 29 stoeiers uit verskeie lande het in hierdie gewigsklas deelgeneem.

Francois is vroeër vanjaar as Afrikakampioen aangewys wat hom laat kwalifiseer het om aan die wêreldkampioenskappe te kon deelneem.Volgens hom was die geheim tot sy goeie prestasies op die stoeimat harde oefening en uithouvermoë.

Hy moes voor die kampioenskappe sy sosiale tyd opoffer en uitmis op skooldanse en kuier saam met sy maats.

“Ek het ook voor die wêreldkampioenskappe saam met verskeie ander lande se deelnemers, aan ‘n twee weke oefenkamp deelgeneem.

“Dit het harde oefening geverg en ons moes ook gewig verloor. Na die groot kompetisie was dit tyd vir ontspan en kon ek verskeie dorpe in Griekeland besoek. Dit is ‘n pragtige land.”

Francois sê hy het op sesjarige ouderdom begin stoei. “Ek was uitgenooi om te gaan kyk wat stoei alles behels by die Ion Baciu Stoei Akademie en ek het dadelik daarvan gehou. Ek het aanhou oefen en in gr. 3 het ek aan my eerste kompetisie deelgeneem.”

Die Amerikaanse stoeier, Jordan Barrows is iemand wie hy bewonder. Hy wil graag na skool ‘n loopbaan in die regte aanpak en hoop om nog goeie prestasies op die stoeimat te behaal.

Afrigter, Rudi Botha is trots op Francois se vertoning oorsee. Hy sê dit is seker die eerste keer in die geskiedenis wat ‘n jong stoeier van ons land ‘n opponent van ‘n oosblokland soos Bulgarye ore aansit.

lionel.@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button