Drie goues vir oue

Johan van Graan (71) is al die afgelope 40 jaar 'n bekende gesig in padwedlope

POLOKWANE – Van Graan het al 11 Comrades Maratonne voltooi. ‘n Maand gelede het hy ook die eerste inwoner van die stad geword om 100 Park Runs agter sy naam te skryf.

Sedert Mei was hy ook die trotse wenner van drie goue medaljes vir mans tussen 70 en 75 jaar oud.

Op 13 Mei het hy eers ‘n Park Run in gietende reën gehardloop voordat hy ‘n uur later aan ‘n landloop by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé deelgeneem het.

“Die roete was papnat en die ene modder,” vertel hy. “Dit was nogal ‘n uitdaging. Op een plek het ons enkeldiep deur die water gehardloop.” Nogtans ontvang hy die goue medalje in sy ouderdomsgroep. Op 29 Julie hardloop hy weereens ‘n Park Run en haas hom na Stanford Lake College om betyds te wees vir die deelname aan die landloop. ” Díe baan was ‘n riller,” vertel hy,” ongelyk , met skerp op- en afdraandes.”

Op 5 Augustus het hy die landloop by die Hans Strijdom Skool in Mokgophong aangedurf en weereens wen hy ‘n goue medalje in ‘n tyd van 40 minute en 30 sekondes.

Van Graan sê hy het laas aan landloop deelgeneem, as hoofseun van Monument Hoërskool (Monnas) in Krugersdorp in 1963.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version