Local sportSport

Uithou, aanhou maak haar top ringbalspeler

Haar opponent in die ringbalproewe was byna twee keer so lank soos sy, maar dit het nie vir Elchané Schreiber (10) ondergekry nie.

POLOKWANE – Elchané het gedurende die winterskoolvakansie aan die Suid-Afrikaanse proewe vir ringbal deelgeneem en ‘n plek in die Limpopospan losgespeel.

“Ek het nie span gekry vir netbal nie en van my vriendinne speel ringbal. Hulle het my toe genooi om ook te speel en ek het by die span aangesluit. Ek het eers hierdie jaar begin speel, en geniet dit baie,” vertel sy.

Sy vertel dat sy genoeg in haarself geglo het om te verwag dat sy gekies sou word vir die Limpopospan.

“Al het ek dit verwag, was dit steeds baie lekker om te hoor hulle roep my naam uit vir die Limpopo A-span. Ek het gehoop om vir die Suid-Afrikaanse span gekies te word en was so bly toe ek wel gekies word. My ouers is ook baie trots op my.”

Elchané vertel dat daar heelwat verskille is tussen ringbal en netbal, so dat ‘n mens anders doel, maar dat ringbal nie moeiliker is as netbal nie. Om fiks te bly hardloop sy baie. Sy warm ook haar skouers op en oefen haar doele.

Foto: verskaf

Sy oefen elke dag.

“Ek het een keer baie seergekry toe ek geval het en my arm verstuit het.”

By die skool, Laerskool Pietersburg-Oos speel sy hokkie vir die o/11A- span en vertel dat alhoewel hokkie makliker is, sy ringbal verkies.

Haar ouers, Eugene en Charmaine Shreiber, is duidelik trots op hul oudste dogter.

Pa Eugene se bors swel behoorlik, terwyl Ma Charmaine meen hul dogter se toewyding is wat die deurslag gegee het.

“Ek weet dat elke ma trots is op hulle kroos maar om self daar te wees is ongelooflik. Ek sien elke dag haar toewyding en passie wat sy vir ringbal ontwikkel het, en hoe sy net beter word en groei in haarself. Dit het haar selfvertroue opgestoot en gehelp dat sy met trots kan aangaan.”

Sy vertel hoe Elchané deurdruk, ongeag die omstandighede: “Ek kan nog goed onthou hoe sy met die een oefening geval en haar gewrig so seergemaak het dat ons hospitaal toe moes gaan. Nadat die dokter bevestig het dat sy nie die gewrig gebreek het nie, het sy ons dadelik laat terugry sodat sy verder kon speel.”

Verwag maar groot dinge van dié jong ringbalspeler, sy is daar met durf en daad.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button