Skut skiet 3 beurse los

Pieter Greyling (17) is 'n talentvolle skut wat pas van die NSSA Junior Wêreldskietkampioenskap in St Joe Valley, Indiana, VS, teruggekeer het.

POLOKWANE – Sy ma Amelda vertel dat skiet iets is wat in Pieter se bloed is en sy vertel dat hulle as gesin gereeld saam gaan skiet.

Hulle het ook onlangs as gesin Suid-Afrikaanse kleure vir kleiduifskiet ontvang.

Pieter het in 2014 begin skiet en reeds in die volgende jaar verwerf hy sy eerste Springbokkleure en begin nuwe rekords opstel.

Tussen 2015 en 2017 laat hy die een rekord na die ander kantel en droom om vir die Olimpiese Spele in te skryf, maar sy ouers raai hom aan om eers nog te wag.

Pieter in aksie. Foto: verskaf

“Ek sien dit keer op keer gebeur dat dit nie die moeite werd is vir ‘n atleet soos hy om in Suid-Afrika uit te blink nie omdat daar so min kans is om raakgesien te word en in aanmerking vir oorsese beurse te kom. Die kanse hiervoor is egter groter as hy oorsee gaan skiet,” vertel sy ma.

Dit dien as inspirasie vir Pieter om vir die 2017 Wêreldskietkampioenskap in te skryf en hier maak hy geskiedenis deur nie net die eerste Suid-Afrikaner nie maar ook die eerste buitelander te wees om in die kompetisie twee goue medaljes los te skiet. Hy wen beide die 12 boor- en dubbelhaelgeweerkompetisies.

Hiérdie prestasie maak vir hom deure oop en tans het die jong man die keuse van drie universiteite in die VS wat hom beurse aanbied vir 2019.

Foto: verskaf

“Ek gaan die kans aangryp om die sportsoort wat ek voor lief is te kan uitleef in Amerika waar ek graag ook wil skoolgaan,” vertel hy opgewonde.

Pieter las by dat skiet ‘n sportsoort is wat hy vir almal sal aanbeveel omdat dit iets is wat die hele gesin aan kan deelneem.

Pieter Greyling

“Met vandag se besige lewe is dit nodig om iets te vind waarmee die gesin kwaliteittyd saam kan deurbring. Skiet is die ideale manier vir die gesin om bymekaar te kom en iets te doen wat almal, oud en jonk, kan doen,” vertel hy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version