Petie skop wêreldtitel los in Amerika

Dié leerder van HTS Tom Naudé het n wêreld titel opgeraap tydens die World Martial Arts Kampioenskappe in Florida

POLOKWANE – Eerder as om leeg te lê en te ontspan tydens die skoolvakansie het Petie Nell na Amerika gereis om aan die Amerikaanse Ope Internasionale Sport Karate/Kickboxing (ISKA) Kampioenskappe deel te neem.

Dié leerder van HTS Tom Naudé het sy slag in Florida, Amerika tydens die World Martial Arts Kampioenskappe gaan wys en ‘n wêreld titel opgeraap.

Die kompetisie was regstreeks deur ESPN2 en ESPN3 uitgesaai.

Petie het aan twee kategorieë deelgeneem, die ligte kontak- en punteafdeling, waar hy ‘n eerste plek in die ligte kontak, en ‘n derde plek in die punteafdeling opgeraap het.

Lees meer: Petie Nell: skopboks is sy lewe

Die droom wat tydens die kampioenskappe vir Petie waar geword het, het reeds verlede jaar begin toe hy in Oktober aan die National Martial Arts, International Sport Karate/Kickboxing (NMA en ISKA) in Stellenbosch deelgeneem het en as Suid-Afrikaanse kampioen in sy afdeling geëindig het.

Hy het twee jaar gelede by Limpopo Province Sport Karate/Kickboxing Akademie (LPSKKA) aangesluit waar hy onder leiding van sensei Nico Myburgh skopboks beoefen.

Met ‘n glimlag en ‘n glinster in sy oog vertel Petie dat hy die sportsoort baie geniet, maar dat daar niks maklik daaraan is nie.

“Met elke toernooi weet ‘n mens nooit teen wie jy regtig gaan deelneem nie en dit is altyd ‘n ander ervaring om met van die beste in die land blad te skud. Een ding wat ons as skopboksers leer is om altyd groot respek vir mekaar te hê en ons is gewoonlik goeie vriende na ‘n kompetisie,” sê hy.

Sensei Nico Myburg vertel dat hulle as klub baie trots is op Petie.

“Ons is ongelooflik trots op hom en sy prestasie. Hy het baie hard gewerk en nou het hy die vrugte gepluk.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version