Local sportSport

David ken van ‘n ‘gym’

"Ek het begin gym omdat ek 'n klein outjie was en fisiek sterker wou word. Boelies was ook 'n faktor wat bygedra het."

POLOKWANE – Soos ons sit en gesels by BodyLife Gym, groet David van Ryneveld elke lid wat in en uitbeweeg vriendelik en vra belangstellend hoe dit gaan.

“Ek het reeds op 15-jarige ouderdom besef dat ek ‘n passie vir oefen het. Ek het gesien watter destruktiewe effek passiewe lewensgewoontes op ‘n mens het,” vertel hy.

Hy vertel dat sy eerste gimnasium in Kerkstraat geleë was en dat hy later die geboue waarin BodyLife tans is, gebou het en die gimnasiums daar geopen het.

“Ek het begin gym omdat ek ‘n klein outjie was en fisiek sterker wou word. Om in ander sport goed te doen, moes ek groter wees. Boelies was ook ‘n faktor wat bygedra het.”

David het by sy tannie grootgeword, en sy skoolloopbaan in Volksrust voltooi waarna hy vir twee jaar by die weermag aangesluit het, en oor dié twee jaar R5 000 gespaar het om op universiteit te kan gaan studeer.

Hierna studeer hy B.Sc. Honneurs (biokinetika) aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus. Ek het my studies met ‘n werk by die Spur saans en by ‘n gimnasium in die middae betaal.

“Daarna het ek in Polokwane by ‘n neurochirurg aangesluit waar ek biokinetiese rehabilitasie op pasiënte met onder andere rug- en nekprobleme gedoen het. In die jare daarna het ek die gimnasiums oopgemaak, en later ook Crossfit Polokwane en Adventure Bootcamp begin, wat ek later verkoop het.”

Deesdae geniet hy dit om sekere dae tot 06:30 te slaap en dan rustig met ‘n koppie koffie op ‘n klip in die veld op sy plaas, sy dag te begin.

Daarna gaan oefen hy, werk programme uit en doen admin en opleiding met sy personeel. In die aande beoefen hy Crossfit.

“Ek is ook besig om verder te studeer en doen internasionale modules oor voeding, leefstylanalise, kondisioneringsprogramme en assessering vir verskillende populasies.

“Ek het my vlak een en vlak twee in Crossfit gedoen en Crossfit gewigte optel en gimnastiekkursusse. Ek het baie ander verwante kursuses gedoen en instrukteurs opgelei.”

Hy vertel dat BodyLife reeds 21 jaar bestaan, en dat van die lede reeds 21 jaar lank lid is.

Hy beoog om binnekort ‘n program vir mense van 50 jaar en ouer bekend te stel waartydens hy hul beperkings en doelwitte ingedagte hou.

“Die belangrikste boodskap aan my personeel is verbeter jou vakkennis en bou goeie verhoudings met kliënte. Niks kan dit vervang nie. My grootste uitdaging met kliënte is om hulle te kry om anders te dink. Kry ‘n identiteit in Christus en weet wat Hy vir jou beplan. ‘n Mooi liggaam kan nooit die alleenstaande doel wees nie. Dit maak mense arrogant, en selfgesentreerd, en vernietig verhoudings. Pas jou liggaam op, daag jouself op fisieke vlakke uit, maar behou balans, en pas die mense om jou op.”

Hy vertel van die “baie foute” wat hy al gemaak het.

“As ‘n mens foute reg benader kom ‘n mens met genade wyser ander-kant uit. Almal stoei met iets, wees sensitief daarvoor.

“Oefen gereeld, maar moenie ‘n afgod van jou liggaam maak nie, wees ‘n voorbeeld van jou produk, bou ‘n verhouding met Christus.

“Die res kom vanself.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button