Local sportSport

Bobaas onnie en afrigter

Elmarie Craig se passie om te lei strek van die klaskamer tot op die netbalbaan

POLOKWANE – Met ‘n passie vir onderwys en netbal is dit geen verrassing dat Elmarie nuwe wind in die provinsiale netbalspan se seile geblaas het nie.

Sy is die afgelope 20 jaar ‘n onderwyser in die stad asook ‘n kranige netbalafrigter.

Elmarie, mede-afrigter van die Limpopo Baobabs wat aan die Brutal Fruit Netbal premierliga deelneem en haar mede-afrigter, Dumisani Chauke, het die span na nuwe hoogtes begin aanvoer.

Na dié span in die 2015/16-seisoen ‘n somber aanslag beleef het, is Elmarie en Dumisani vasbeslote om die span ‘n mededingende eenheid te maak.

Review het met Elmarie gesels oor haar lewenservaring hier in die stad sedert sy haar onderwysloopbaan hier begin het.

Sy is ‘n gebore en getoë Pretorianer wat matriek aan die Hoërskool Gerrit Maritz voltooi het.

Sy sê onderwysers het haar aangeraai om joernalistiek te studeer, alhoewel sy ‘n onderwysloopbaan gekoester het.

So besluit Elmarie toe op die raad van haar leerkragte, en studeer joernalistiek.

“In my tweede jaar skop ek op en slaan oor onderwys toe. Dit het veral gekom nadat ek tydens tussenstudietye by ‘n kleuterskool gewerk het. Die idee van ‘n skool en kinders het my laat besef, hier is waar ek ‘n loopbaan wil volg. In my hart was ek altyd onderwyser,” sê sy.

Die liefde in haar lewe, Gerrie, wat van Nelspruit se kontrei is, het sy terwyl sy by NKP studeer het ontmoet.

“Gerrie het voor my klaar gemaak met sy studies. Hy het elektrieseingenieurswese studeer. Toe hy destyds klaar maak met sy studies het hy ‘n pos in Plokwane aanvaar. Ons ons het ‘n lang-afstandverhouding gehad. Na ek egter my studies voltooi het, het ek ‘n pos by Laerskool Pietersburg gekry en het in 1997 by dié skool aangesluit,” vertel sy.

Elmarie Craig is tans mede-afrigter van die Limpopo Baobabs wat in die Brutal Fruit Netbal Premier-liga al twee range opgeskuif het sedert verlede jaar se vertonong.

Sedertdien het Elmarie van dié laerskool oorbeweeg vir ‘n pos na Hoërskool Pietersburg in 2003 en in 2005 is sy weer vir ‘n wyle by Laerskool Pietersburg.

Sy het in ‘n stadium die onderwys verlaat en haar bemarkersvernuf op die proef gestel, maar die onderwys roep haar terug.

Sy het by Hoërskool Pietersburg vir die hoof se sekretaresse ingestaan en is kort daarna gevra om vir ‘n onderwyspos in te staan. So bevind Elmarie haarself weer voor in die klas om lesse vir leerders aan te bied vir die afgelope vyf jaar.

“Ek bly en is baie gelukkig in Polokwane. Wat ek hou van die stad is dat dit klein genoeg is soos ‘n dorp, maar ook groot genoeg is soos ‘n stad dat ons stad nie agtergeblewe is nie.”

Elmarie se voorsmakie van netbal het gekom as ‘n laerskoolleerder en sy het op hoërskool korfbal gespeel wat in haar gr. 10-jaar na netbal omgeskakel is.

Deur haar vernuf op die netbalbaan verdien sy haar Noord-Transvaal kleure asook Suid-Afrikaanse kleure. Sy is in haar netballoopbaan tot die Suid-Afrikaanse o/21-span verkies.

“Ek het in ‘n sporthuis grootgeword met my ouers Louis en Melanie wat beide in sport betrokke is. Ons het sport geëet, geslaap en gelewe in ons huis. Dus het netbalafrigting, en vanweë my betrokkenheid as speler, natuurlik gekom,” sê Elmarie.

Haar loopbaan as netbalafrigter het kort na haar onderwysloopbaan begin.

“Wat vir my verblydend van die Brutal Fruit Netbal premierliga is, is die feit dat daar vir meisies wat skool verlaat hier in Limpopo ‘n geleentheid is om verder professioneel netbal te speel. Hulle hoef nie meer na groter stede toe te verhuis om senior netbal te speel nie. Dis ‘n aangename ervaring met van die land se top afrigters in die netballiga skouers te skuur. Om teen hulle te kan meeding, en natuurlik ook raad en daad by hulle te kan kry, is wonderlik.”

Elmarie sê dit is vir haar ‘n voorreg om saam met Dumisani die Limpopo Baobabs te kan afrig. Sy verduidelik dit is ‘n aangename ervaring om saam met haar ‘n hoër vlak van netbal te kan ontleed en só ook die spelers in die span.

Haar opsomming van die Limpopo Baobabs in vanjaar se aanslag tot die Brutal Fruit Netbal premierliga is dat die span en afrigters doelgerig was om te verbeter op die vorige seisoen se vertoning.

“Ek is effens teleurgesteld omdat ek dink daar is een of twee wedstryde waarin ons beter kon vaar. Ek en Dumisani is nietemin tevrede met die verbetering en om twee plekke hoër op die ligastand te eindig as in die vorige seisoen is bevredigend,” sê sy.

Volgens Elmarie lê die besluit uiteindelik by Netbal Suid-Afrika rakende die aanstellings van afrigters by die deelnemende spanne in die premiernetballiga. Sy sê sy behoort eers teen die einde van hierdie jaar te weet of sy weer as afrigter by die Limpopo Baobabs betrokke sal wees.

“Maar dit is ook ‘n besluit wat ek self weer sal moet oorweeg. Die premiernetballiga strek oor agt weke wat beteken dat ek tyd van die werk moet afneem, en so gaan tyd verlore wat ek moontlik saam met my gesin kon spandeer. Ek geniet dit baie, maar dit verg ook baie van my tyd,” verduidelik sy.

roelof@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button