Local sportSport

Juniors roer in potspel

Die 2017 Blackball Poolliga is goed onderweg en Review het met Naas Vorster gaan gesels oor dié sportsoort.

POLOKWANE – Net soos ander sportsoorte is potspel ook opgedeel in ouderdomsgroepe.

Jongspelers, so jonk as agt of nege jaar, onder andere, speel in die o/14-groep. Hulle neem ook deel aan die Junior Kampioenskappe. Twee van die nuutste juniors het onlangs tydens ‘n kompetisie by die Mimosaklub albei hul wedstryde gewen.

“Dan is daar ‘n Mansafdeling waarin enige ouderdom kan deelneem, ‘n Senior- (oor 40 jaar), Master- (oor 50 jaar) en Vrouekategorie,” verduidelik Vorster.

Enige iemand kan aan die sportsoort deelneem. Spelers moet registreer op die Cuesportsisteem en jaarlikse fooie betaal. Wedstryd resultate, vordering en ander spelers se resultate kan gevolg word op Cuesport.

“Spanne word ingedeel in groepe van vyf spelers. Die punte word per span, asook vir die spelers individueel gewys, en aan die einde van die liga sal daar ‘n gekose span en individuele wenner wees,” vertel Vorster.

“Spanne speel weekliks teen mekaar by verskillende klubs. Elke span het ‘n tuis, en weg-wedstryd, dus speel hulle twee keer deur die loop van die jaar teen ‘n span. Ligas maak gewoonlik September/ of Oktober klaar waarna daar begin word met die provinsiale uitdunne.

“Die top 20% aan die einde van die liga word na die uitdunne genooi wat dan per kategorie aangebied word. Aan die einde is daar ‘n groep van vyf in elke kategorie wat kwalifiseer vir die nasionale kampioenskappe in Januarie,” verduidelik hy.

“Ons probeer plaaslik om ligas in ander distrikte aan die gang te kry om meer spelers te werf. Huidiglik is daar ongeveer 130 spelers. Die toekoms van die sportsoort gaan alles afhang van jong spelers. Van ons speel al vir baie jare en ons het top spelers in die provinsie, wat kennis en ondervinding aanbetref staan ons vir niemand terug nie. Ons het wel jong spelers nodig om die sportsoort mee te bou en dit is die belangrikste op hierdie stadium,” sê Vorster.

“Wat mense nie regtig besef nie is met fisiese sportsoorte soos rugby en krieket byvoorbeeld, is daar net ‘n sekere tydperk wat ‘n persoon mededingend daaraan kan deelneem voordat jy te oud raak en dan iets anders moet vind om jou mee besig te hou. ‘n Mens kan potspel van ‘n baie jong ouderdom speel tot jy die dag omval, en nog op hoër vlak of selfs oorsee kompeteer sou jy goed genoeg wees ongeag van jou ouderdom,” sluit Vorster af.

riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button