Pa en seun treë saam uit

Die Besters draf al jare lank saam op die baan uit en het saam besluit om hul stewels op te hang.

POLOKWANE – Vir 12 jaar het Ruan (25), en Riaan Bes Bester (48), saam uitgedraf vir Goldwagen Noordelikes, en op Saterdag, 27 Mei, het die twee hul gesamentlike rugbyloopbaan afgesluit.

“Ons het verlede Saterdag saam in die Oumanne-wedstryd by die BB Groep Bosveld Intervarsity gespeel. Ons was beide in Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se span.”

Ruan vertel dat hy reeds in laerskool geweet het hy wil eerder rugby as krieket speel, en in 2005 is hy as eerstespanspeler vir Laerskool Pietersburg-Oos gekies. Op hoërskool het hy in 2010 vir die eerstespan gespeel en gedurende en toe ook met klubrugby begin.

Bes speel ook reeds van laerskool dae af rugby maar vertel dat hy ook geboks het op hoërskool.

“Ek het vir die tweedespan uitgedraf in gr. 12. Ek het nog op 33 klubrugby gespeel en toe vir drie jaar opgehou. Op 36 het ek weer saam met Ruan begin speel. Ek sê elke jaar dat dit my laaste jaar is. Ek sal volgende jaar weer in die Oumanne-wedstryd uitdraf vir Tom Naudé.”

Ruan vertel dat aangesien hy van ‘n vroeë ouderdom af klubrugby gespeel het, hy in staat is om in enige posisie te speel.

“Ek kan nie eintlik stut, haker of slot speel nie, maar toe ek eers vir die klub gespeel het, moes ek oral speel.”

Bes speel nog altyd stut, maar voel gemaklik in enige voorry posisie.

“Die voordeel van saamspeel is dat ons mekaar kalm hou en motiveer. Dit is vir my ‘n geweldige voorreg om saam met my pa op die veld uit te draf. Dit bring ons baie na aan mekaar.”

Bes sê mense dink dikwels hy is Ruan se ouer broer en sy raad aan ander pa’s en seuns is om nie te huiwer om saam op die veld uit te draf nie.

Hierdie pa en seun het nie baie kans gehad om rugby op televisie te kyk nie, maar hulle is albei groot Bloubul-ondersteuners.

“Verlede Saterdag se wedstryd was ongelooflik. Dit is net met die Here se genade dat ek saam met my seun op die veld kon uitdraf.

“Ons het aan die jonger generasie gewys hoe hulle moet speel en hulle kan sien wat klubrugby se impak is,” vertel Bes.

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version