Comrades- droom vroëer ‘n werklikheid

Cheyaye Engelbrecht van die Potties Atletiekklub het haar groot droom verwesenlik toe sy die Comrades Marathon vir die eerste keer aangepak en voltooi het. Sy deel haar ervaring met Bosveld.

“Sjoe waar begin ek? Ek het vier jaar gelede begin hardloop en dit was ‘n groot droom van my om die Comrades eendag te kan voltooi. Ek het eintlik gesê voor ek 40 word (ek word die jaar 35) sal ek dit aanpak. Maar ek het hierdie jaar kort nadat ek ingeskryf het vir die Loskop Ultra Marathon van 50 km net besluit ek bly dit uitstel, ek gaan die Comrades aanpak en is aangemoedig deur twee van my mededrawwers. Gelukkig het ek reeds in Februarie gekwalifiseer, en ek het ook vining ‘n ‘substitution entry’ gekry. So het alles in plek geval om my droom te bewaarheid.

Die hele opbou na die Comrades is ongelooflik en die ondersteuning van my familie en vriende van die Potties Atletiekklub was oorweldigend. ‘n Mens besef nie altyd hoeveel mense jy het wat agter jou staan en in jou glo nie. Die rit na Durban was lekker. Ons het die Vrydagmiddag die roete gery en na die eindstreep gaan kyk. Ek het ‘n paar keer ‘n holkol op my maag gekry maar dit het my ook baie rustigheid gegee. Die Comrades ekspo wat by die Durban ICC gehou is vanaf die Donderdag tot die Saterdag was ongelooflik. Ons het daar geregistreer en heerlik inkopies gedoen en na die nuutste sportprodukte op die mark gekyk.

Saterdagaand was ons maar vroeg in die bed, en toe ek Sondagoggend opstaan, tref dit my ek gaan werklik die Comrades hardloop. Ons is net voor 04:00 na die beginpunt by die stadsaal. Daar was duisende mense en die gees was genoeg om ‘n mens hoendervleis te gee. Nadat die ou treffer ‘We will rock you’ gespeel is, het ons Shozoloza gesing, gevolg deur die volkslied en Chariots of Fire. Daar was nie een persoon wat ek gesien het wat nie emosioneel geraak het nie. Die bekende haan het gekraai en die kanonskoot het die atlete aan die draf gesit.

Die begin was moeilik omdat daar soveel mense om jou is wat hardloop. Ek moes mooi in die donker kyk om nie te val nie. Ek het mense gesien wat al vroeg oor die pad se katogies geval het. Die eerste twee waterpunte het ek heeltemal gemis, want daar is net te veel mense. Gelukkig het ek twee waterbottels by my gehad. Ek het van die begin af saam die 11:30 bus gehardloop. Lucas Sekele en Ezekial Moatshe van die atletiekklub Addicted to Life het dit ongelooflik lekker vir ons gemaak. Sekele hardloop met n vlaggie en is ‘n amptelike pasaangeer. Hy het ons deur daardie hele roete gehelp om te verseker dat jy nie te vinning of te stadig hardloop nie en op die regte plekke stap.

Ek het met verskeie mense van so ver as Oostenryk langs die pad gesels. Die Comrades is ‘n wedloop waarvoor ek baie respek het. Jy werk elke liewe kilometer wat jy hardloop. Jy gee letterlik jou als en die wedloop neem regtig alles uit jou. Die tema vir vanjaar se Comrades is Zinikele wat beteken: ” It takes all of you”.

Ek het op ‘n stadium na my horlosie gekyk en gesien ek hardloop al vir drie ure. Toe ek weer kyk is dit al agt ure. Ek het nie weer gekyk nie. Dit is net te oorweldigend om te dink dat jy letterlik van sonsopkoms tot sononder hardloop. Ek het ook nooit teruggekyk nie. Ek het geweet daar is bitter baie mense agter my.

Die langste dag het vinnig verbygegaan. Potties Atletiekklub se voorsitter, Hennie Smit, het vir ons goeie raad gegee: “Vat die wedloop en breek dit op 10 km op ‘n slag. Ek het geluister en dit het gehelp.

Ek het die laaste 7,5 km begin voel dit raak nou lank. So 2 km voor die einde het die aankondiger by die waterpunt gesê: “Here comes the sub 11:30 bus, they are late” en daar tel die groep toe spoed op en ek hardloop die laaste 2 km alleen. Ek is verskriklik dankbaar dat ek saam hulle kon gehardloop het, want so iets kan jy verseker nie alleen aanpak nie.

Ek het ‘n paar keer mense gesien wat net langs die pad gelê het. Een man het geval en sy hele kop was oop. Ek is bitter dankbaar dat ek die wedloop kon voltooi en dat ek nie sleg gevoel het nie. Die gevoel wat jy ervaar wanneer jy die Toyota-myl bereik, en jy al die mense sien en hoor is onbeskryflik. Toe my voete die gras tref het ek emosioneel begin raak. Dit was ‘n ongelooflike gevoel om die Comrades klaar te maak. Ek is so geseënd en as dit nie vir die Here was nie, sou ek nie dit kon vermag het nie. Ek het werklik nog nooit so baie gebid soos tydens die Comrades nie.

Die laaste 2 km het ‘n boodskap wat my pa vir my die Saterdagaand gestuur het, my gedra. Ek wou Comrades voltooi vir hom, my man en my twee seuntjies. Ek sal verseker volgende jaar weer gaan. Dit is iets besonders.”

Groete, Cheraye Engelbrecht

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version